top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VADER GETUIG OOK OOR JESUS (3) – EK IS DIE LIG VIR DIE WÊRELD (3)


Joh. 8:12 – “Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: ‘Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”


Vergelyk ook Joh. 1:4-5 – “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”


"Die volk wat in donkerte geleef het, het 'n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het 'n lig geskyn" (Jes. 9:1). Jesaja beskryf hoe God as die Lig in die donkerte van die volk geskyn het. Net so het Jesus as die Lig van die evangelie na ons gekom wat in die donkerte van sonde gehul was – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Instede van donkerte van verderf, het ons die Lig van vrede en seën; instede dat die donkerte van die dood ons tref, ontvang ons die Lig van die lewe; instede van die donkerte van onkunde, die Lig van kennis; instede van die donkerte van die sonde, die Lig van genade en redding en hierdie redding het ‘n totale ommekeer in ons lewe veroorsaak.


Al is die donkerte so dig dat dit spreekwoordelik “voelbaar” is, kan dit nie eers ‘n klein kersvlammetjie uitdoof nie – wat nog te sê van die lig wat Christus aangesteek het. Daardie lig skyn aanmekaar in die duisternis. Dit is veelseggend – toe die Lig op Golgota gekruisig is, was daar vir drie ure totaal en al duisternis. Die son het opgehou om te skyn, want die Lig was dood! Die Lig is uitgeblaas! En sonder die lig was die wêreld verlore! Daarom is elke Sondag opstandingsondag, die fees van die Lig, waarin ons herinner word dat Jesus opgestaan het, dat die Vader in al Sy grootheid die Lig vir ewig weer kom aansit het! Dan is daar werklik nog mense wat egter die duisternis liewer het as die lig – “en so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20).


Jesus wil vandag binne jou hart en jou lewe kom staan soos Hy in die tempel gaan staan het en ‘n uitnodiging gerig het – “wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Hy wil kom staan daar waar dit donker mag wees. Hy wil jou vooruitgaan en gaan wag daar waar Hy weet dit dalk vir jou nag en donker kan raak! Hy gaan staan in jou donker om dit Lig te maak. Hy wil Sy plek kom inneem in mense se lewens wat dalk donker geraak het, en wat smag na Sy lig.


Die kerk is afgevaardig deur God om die lig van die wêreld te wees want God verklaar Sy waarheid aan die kerk – “Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in Sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo” (1 Kor. 1:21). Die evangelie wat Paulus verkondig het, het die mense van Tessalonika so aangegryp “dat hulle volgelinge van die Here geword het.” Paulus wat eens op ‘n tyd soos ‘n besetene die volgelinge van die Here bedreig het, se lig skyn nou in alle rigtings. Net so het die apostels, eenvoudige vissermanne, die lig van die evangelie geplaas waar almal dit kon sien en hoor. Hulle verkondiging van die evangelie het daartoe bygedra dat die Christendom van ‘n handjievol na ongeveer 2 biljoen gegroei het in 2000 jaar!


Hoe skyn ons ligte? Is dit sigbaar in alle rigtings sodat almal dit kan sien en hoor? Sal ander die “Here aanneem as ons voorbeeld gevolg word?” Jesus het belowe dat “ons krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor ons kom en ons Sy getuies in die wêreld is” (Hand. 1:8). Ons as Christen gelowiges moet dus daardie lig vir die wêreld laat skyn want die Heilige Gees het ons verander om in Jesus te glo (Ef. 5:8). As ons al die ligte in die huis afsit en ons steek ‘n kers aan, dan maak dit mos lig daar waar ons staan en kan ons rondom ons sien. Maar die lig van die kers gaan nie help as ons die kers in die kombuis los terwyl ons badkamer toe loop nie? Ons moet die lig saamvat! Voor ons uithou. En as ons die lig voor ons uithou sal ons kan sien waar ons loop. Dit help nie jy sê jy het die lig, maar jy los dit in die kombuis nie! Jy gaan in die donker val!


’n Dissipel van Jesus is iemand wat nie die lig Sondae in die kerk los nie, maar dit Maandag tot Saterdag, voor hom uithou! ’n Dissipel van die Lig is iemand wat elke dag die Lig kies! Kies om die lig, die mooie, die goeie, die genade, in die donker raak te sien omdat hulle Jesus raaksien! Iemand wat elke dag ’n doelbewuste keuse maak teen die donker van sonde en verleidinge in die wêreld omdat hulle die Lig wil volg, wil saamvat, voor hulle wil uithou! En dit is vir hierdie volgelinge vir wie die Here Jesus sê: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie.” Want Hy sal gaan staan op die plek waar dit donker is, of waar dit miskien eendag donker mag raak, om dit vir jou lig te maak. Hy sal op die donker plek gaan staan sodat jy Hom as die Lig kan sien en sodat jy kan sien waar om te loop en sodat jy kan kom waar Hy jou wil hê.


“Een mens se gloeiende persoonlike getuienis van ‘n ontmoeting met die Here is net so goed soos ‘n biblioteek vol abstrakte argumente” (Vance Havner).


Gebed: Here, vroeër was ek die ene duisternis, maar in U is ek nou lig want ek het U uitnodiging aangeneem om U te volg. Laat my dan lewe soos ‘n mens van die lig en weerhou my om mee te doen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis. Help my o Gees dat ek ‘n lewende ligbaken van die evangelie sal wees in ‘n wêreld wat donker, ongelowig en onkundig is. Dankie dat U vir my wag waar dit donker is om dit vir my lig te maak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page