top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (2) – OORSPRONG EN BRON VAN JESUS SE GESAG


Joh. 7:14-18 – “Toe die feestyd al halfpad verby was, het Jesus na die tempel toe gegaan en die mense daar geleer. Die Jode was verbaas en het gesê: ‘Waar kom hy aan die geleerdheid? Hy het dan geen opleiding gehad nie!’ Jesus het vir hulle gesê: ‘Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat. Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.


Vergelyk ook Matt. 13:11 – Jesus het Sy dissipels geantwoord: ‘Aan julle is die gelykenisse gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.”


Jesus wag sy tyd af en toe die huttefees van sewe dae al halfpad verby was, gaan Hy openlik op na die tempel en begin sy vyfde gesprek, waarin Hy voortgaan om te openbaar dat Hy die Christus is wat van die Vader gekom het en weer na die Vader teruggaan. Voorheen het Jesus wondertekens in Jerusalem gedoen (5:1-13), maar Johannes maak geen melding van enige onderrig van die volk nie. Vir die eerste keer tree Hy dus nou in die tempel op om die mense te leer.


Die Jode, onder wie seker ook die skrifgeleerdes, spreek hulle verwondering uit oor Jesus se kennis van die Skrifte, aangesien hulle weet dat Hy nie in hulle skole onderrig is in die rabbynse teologie nie. Hulle verwondering is egter nie bewondering nie, maar veeleer minagting. Die feit dat Hy met gesag die volk leer, kan hulle nie ontken nie, maar hulle wil weet waar Hy aan die geleerdheid kom, aangesien Hy dit nie van hulle ontvang het nie.


Jesus wil onmiddellik misverstande uit die weg ruim. Hy het nie gekom om die volk te mislei nie (7:12) of om Homself te beskou as ’n selfaangestelde leraar van die volk nie. Hy tree op as die Een wat gestuur is. Hy het voorheen reeds verklaar dat Hy deur die Vader gestuur is (3:17; 5:37) en dat Hy die opdrag uitvoer van Hom deur wie Hy gestuur is (5:19). Die woorde wat Jesus uitspreek, is dus nie van Hom afkomstig nie, maar van die Vader. Dit beteken nie dat Jesus nie die verantwoordelikheid vir sy uitsprake aanvaar nie, maar Hy wys op die oorsprong en bron van gesag van sy leer – “dit kom van God, nie van mense nie.”


Dit is egter nie elkeen wat sal verstaan dat Jesus se leer van God af kom nie. Daarvoor was meer nodig as die kennis van die skrifgeleerdes. Jesus se gelykenisse wat Hy vertel het, is aan die twaalf dissipels “gegee om die geheimenisse van die koninkryk te ken." Dit is egter God wat die hart gereed maak om dit te verstaan – die gesindheid van die mens, die gesteldheid van die mens se innerlike van die hart, hang daarvan af. Jesus se volgelinge het Hom op ‘n stadium gevra: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” Jesus se antwoord was: “Julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het” (6:28-29). In 7:17 sê Jesus: “Iemand moet gewillig wees om die wil van God te doen en dan sal hy weet dat Jesus se leer van God af kom." Om “gewillig te wees om die wil van God te doen” gaan om die innerlike gesteldheid van ons hart teenoor God en sy Gestuurde - dit is gelyk aan die “glo in Hom wat Hy gestuur het."


Jesus praat nie oor Homself nie, Hy leer die Jode en feesgangers werklik van God. Hy “soek nie Sy eie eer” soos Sy broers voorgestel het nie. Hy stel ook nie Sy eie saak nie maar bevorder die saak waarvoor God Hom gestuur het. Hy span Hom in om alleen maar die wil van die Vader te doen (4:34) en Hom te verheerlik. Daarom is Jesus “geloofwaardig”. Hy is wat Hy voorgee om te wees – opreg, eerlik, betroubaar en geloofwaardig. Hy is ons Vryspraak, die Heiliging en die Verlossing, ons Wysheid – “Jesus het vir ons geword die wysheid wat van God kom” (1 Kor. 1:30). Die implikasie hiervan is dat Jesus werklik is wat Hy voorgee om te wees, naamlik die Een wat deur God gestuur is, die Messias.


Ware wysheid is nie in die mens self geleë nie, dit is ‘n Persoon: Jesus Christus! Hy ís die Wysheid “wat van God af kom” en slegs diegene wat met Jesus verenig is, het die Wysheid gevind. Hierdie wysheid word nie op een of ander manier verwerf nie, dit kan nie êrens gekoop word nie, dit is aan God te danke – deur God se genade is dit verkrygbaar by Hom: “Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid” (Job. 28:12). Die Wysheid se woonplek het oopgegaan en uit die geopende hemel het die Wysheid neergedaal na die aarde toe om mens te kom word (Joh. 1:14) om sodoende die mens te kom vind om wysheid aan hom te gee “om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken.” Die mens het egter die keuse of hy hierdie wyshede wil ontvang, al dan nie.


“Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig” (Spr. 9:10).


Gebed: Here, U weet presies hoeveel foute ek daagliks maak en onoordeelkundige dinge ek kwytraak. Vergewe my asseblief. Help my om by U te leer, deur U Woord te bestudeer om insig te verkry want ek glo dat “wanneer U woord vir my oopgaan, bring dit lig en dit gee insig aan my wat nog onervare is” (Ps. 119:130). Here, ek wil naby U lewe sodat U Gees van wysheid my sal leer en onderrig. Maak my bereid om soos U, te weet wanneer om te praat en wanneer om eerder stil te bly. Here, ek het U wysheid só nodig. Dankie dat ek dit van U kan vra en kan glo dat U dit vir my sal gee (Jak. 1:5). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page