top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


ONGELOOF EN GELOOF ONDER DIE DISSIPELS VAN JESUS (3) – JESUS SE WOORD BRING SKEIDING.


Joh. 6:64b-66 – “Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: ‘Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.’ Hieroor het baie van Sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.


Vergelyk ook Matt. 7:14 – “Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Deur sy goddelike kennis van die mens, weet Jesus presies wie nie Sy woorde glo nie. Hierdie wete het Hy “van die begin af”, vanaf die begin van Sy aardse optrede, al geweet. As Middelaar besit Hy die voorkennis van alles wat Hy sal wedervaar, die geloof en die ongeloof, die guns van mense en die onguns, die dissipelskap en die vyandskap, die verering en die verwerping. Jesus weet ook wie Hom sal verraai, en tog het Hy Judas Iskariot ook gekies om een van die twaalf te wees, sodat Hy in alles gehoorsaam kan wees aan die Vader wat Hom gestuur het.


Die feit dat sommige glo en ander nie, is vir Jesus dus nie ’n verrassing nie, en aan Sy hoorders gee Hy ’n verklaring van die verskynsel. Vir die sondige mens is dit onmoontlik om uit eie beweging na Jesus toe te kom en in Hom te glo. Hy kan dit alleen doen as die Vader “dit aan hom gee”, dit wil sê aan hom die genade skenk om te kan glo. God bring deur die gehoorde woord en die werking van die Gees, die mens in beweging om na Jesus te kom. Die normale toedrag is dus dat mense voortgaan in sonde en ongeloof; die wonder van genade is dat sommige hulle tot Jesus keer en gered word.


“Hieroor het baie van Sy dissipels (volgelinge) omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.” Hulle was vol verwagting dat Hy die Messias, volgens hulle eie standaarde sou wees, maar Hy volhard met gesprekke oor geestelike dinge. En die eise wat Hy stel om die ewige lewe te verkry, naamlik dat hulle sy "vlees moet eet en sy bloed moet drink", wek weersin. Al die wondertekens wat hulle tot dusver aanskou het, is vergete. Selfs die feit dat hulle Jesus wou koning maak, het soos mis voor die son verdwyn. Hulle wou iemand volg wat vir hulle iets kon doen. Maar toe hulle hoor wat Hy eis, toe is die kerk meteens leeg! Sy mooiweers-vriende verlaat Hom toe die eerste skaduwee oor hulle val – die skaduwee van die kruis!


Talle mense loop vandag nog van die Here Jesus af weg wanneer hulle voel Sy dienslewering is nie na wense nie. Baie kan soms maklik om verkeerde, hoogs verdagte en selfs selfsugtige redes agter Jesus aanstap. Party mense stap agter Jesus aan net omdat hulle die duiwel en die hel vrees. Ander weer omdat hulle glo dat, indien hulle darem so 'n tydjie hier en daar aan God afstaan, God hulle darem iewers hier en daar sal beloon. Nog ander stap agter Jesus aan want dan het hulle darem die hoop dat as die moeilikheid en ellende hom versmoor, God weer lig aan die einde van die tonnel sal gee. Maar dan raak hulle moeg, die “smal pad” van Jesus se Bergpreek in Matteus 7 raak te moeilik. Hulle besef nie dat hulle lewens van Hom afhang nie!! Hulle besef nie dat Hy gevolg moet word, al voel dit vir jou Hy antwoord nooit enige gebed nie en al tref al wat 'n ramp is jou lewe!


Wanneer 'n mens na Jesus se gesprek met die mense kyk, blyk dit egter dat, indien 'n mens eenmaal om verkeerde redes Jesus se volgeling geword het, dit vir so 'n persoon baie moeilik word om te verstaan waaroor die navolging van Jesus werklik gaan, juis omdat so iemand dikwels blind geword het vir die werklike geestelike waarde van die evangelie van Jesus Christus. Jesus Christus moet gevolg word omdat Hy Here en God en Koning is en ons maar net verdoemde sondaars wat slegs by die grasie van Sy genade die ewige lewe ontvang het “Die loon wat die sonde gee, is die dood. Die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6:23). Hy word nie gevolg omdat Hy sulke goeie dienste lewer nie!


"GOD SE PAD, IS AL PAD!"


Gebed: Here, as ek hier lees en rondom my kyk, is dit hartseer om te erken dat daar só baie mense is wat moeg en moedeloos raak vir die uitdagings van die evangelie. “Daar is so baie weë wat vir ons as mense reg lyk, maar dis weë van die dood” (Spr 14:12) want U is nie daar nie. Ons het almal gesondig en was ver van God af, maar deur U verlossing by Golgota kan ons nou met vrymoedigheid die kruis as kompas, as vertrek- en eindpunt gebruik van dit wat ons glo en bely. Dankie dat U “kompas” ons tot by die regte adres bring, die “nou poort” wat ons na die smal pad en na U toe, lei. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page