top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


ONGELOOF EN GELOOF ONDER DIE DISSIPELS VAN JESUS (2) – HEMELVAART ONGELOOF


Joh. 6:60-64 – “Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: ‘Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?’ Jesus het vanself geweet dat Sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: ‘Skrik dit julle af? Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?’ Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het , kom van die Gees en gee lewe. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”


Vergelyk ook Ps. 110:1 – “Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” (1953 Vertaling)


Die eintlike grond vir al die volgelinge se bedenkinge oor Jesus, was egter nie die eise wat Jesus gestel het nie, maar die ongeloof in hulle eie hart. Die woorde van Jesus het die ongeloof aan die lig laat kom en daardeur weet Hy dat daar gemor word oor wat Hy gesê het. Kort tevore was dit die Jode, Sy teenstanders, wat gemor het (6:41), maar nou is dit Sy dissipels, sy volgelinge. Jesus se voorkennis laat Hom reageer deur te sê: ”Skrik dit julle af? Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?” As hulle oor die woorde wat hulle gehoor het, struikel, wat dan nog as hulle Jesus se lydensweg en hemelvaart moes beleef?


Die hemelvaartdaad van Christus is seker een van die grootste openbaringe van God se almag en heerlikheid. Die hemelvaart was op aarde die afronding van Sy versoeningswerk en Jesus gaan met Sy hemelvaart uit die ellendes van die graf en die dood, in die ewige heerlikheid van God in. Hy is deur onnoembare angste en lyding ter wille van ons sondes en ook vir almal wat Hom verlaat het. Hy gaan uit ’n wêreld van stryd en spanning uit, in die ryk van God se volmaakte vrede in. Die Here Jesus het na die hemel der hemele toe weggegaan waar Hy nou plek gereedmaak en voorbidding doen om al Sy gelowige dissipels by Hom te ontvang. Die hemelvaart preek die grootheid van die Here Jesus Christus. Dít sou beslis Sy volgelinge meer laat mor het.


In die hemelvaart bely ons die heerlikheid van die Here Jesus Christus – ons bely dat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, dat hierdie hemelvaart van Hom sy heerlikheid geopenbaar het – “U het opgegaan na die hoogte om daar te woon, Here God! Geloofd sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp! God is vir ons die God wat ons red, die Here ons God deur wie ons bewaar word in doodsgevaar” (Ps. 68:19b-21). Met die hemelvaart van die Here Jesus het die groot versoendag vir die wêreld aangebreek. Geloof behels ‘n bonatuurlike verstaan van die wêreld en van God – God is groter as ons denke en groter as die denke van Sy destydse volgelinge.


Charles Spurgeon het die volgende vertel: “Dit is van ‘n sekere Christen gesê dat die hemel in hom was voordat hy in die hemel was. Dit is noodsaaklik vir ons almal: Ons moet die hemel in ons hê voordat ons in die hemel kan kom. As ons nie in die hemel kom voordat ons sterf nie, sal ons nooit daarná daar kom nie.” Om die hemel in jou te hê voordat jy in die hemel kom, is eenvoudig: Glo in die Here Jesus Christus!!!! Hy gee vir ons daardie versekering: “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe” (6:47), “Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”


“Christus se bloed is die sleutel na die hemel” (Thomas Brooks).


Gebed: Dankie Here vir die versekering dat as ek “luister na wat U sê en in ons Vader glo wat U aarde toe gestuur het, (Joh. 5:24), kan ek “bly wees omdat my naam in die hemel opgeskryf is” (Luk. 10:20). Die saligheid, eindelose vreugde, blydskap en vrede is vir my ‘n vooruitsig, maar Here, ek weet ek kan die hemel nou reeds op die aarde ook beleef, want die volheid van U lewende teenwoordigheid is by my. Dankie tog! Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page