top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE JODE VERSTAAN NIE JESUS SE WOORDE NIE (3)


Joh. 6:52-59 – “Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: ‘Hoe kan hy sy liggaam gee vir ons om te eet?’ Maar Jesus sê vir hulle: ‘Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.’ Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.”


Jesus se uitspraak in die sinagoge van Kapernaum, het veroorsaak dat daar ‘n skerp meningsverskil ontstaan het tussen die Jode. Hulle het “onder mekaar begin stry en gesê: ‘Hoe kan hy sy liggaam gee vir ons om te eet?” Grens dit nie aan kannibalisme nie? Die vorige dag het hulle Jesus nog aangespreek as “meneer” – ”Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood” (6:34), en nou verwys hulle met veragting na Hom as “hy”. As timmermanseun van Josef en Maria behoort hy mos te weet dat bloedgebruik vir die Jode verbied word en dat dit teen die wil van God is (Gen. 9:4; Lev. 3:17). En om die saak verder te vererger, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” Daarom neem hulle so sterk aanstoot aan die uitspraak van Jesus – dit is verregaande en ongehoord!!


Hulle begryp egter nie die geestelike betekenis van Jesus se woorde nie. Dit is juis as gevolg van hulle ongeloof en blindheid dat hulle iets afskuweliks in Jesus se woorde raakgesien het. Jesus het dit ook vir hulle gesê: “Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie” (6:36). Van die uitspraak waaraan die Jode aanstoot neem, trek Jesus niks terug nie, maar Hy sluit aan by die gedagte van honger en dors (6:35) om nou te verklaar dat die lewe gevind kan word slegs deur die liggaam en bloed van die Seun van die mens. Hierdie geloofsdeelname aan die vlees en bloed van Christus is volstrek noodsaaklik vir die verkryging van die ewige lewe. Dit skenk trouens die lewe op so ’n innige wyse dat ons gelowiges voortaan die lewe as iets blywends in onsself het omdat ons Christus in ons opgeneem en met Hom een geword het.


Hierdie eet en drink is nie iets wat eenmalig kan gebeur nie. Dit gebeur ook nie net elke drie maande by die nagmaal nie. Trouens, Jesus sê in Johannes 6 niks oor die nagmaal nie. Dit is eers by die instelling van die nagmaal dat Jesus hierdie eet en drink by die nagmaal betrek. In geestelike sin beteken die drink van die bloed van Jesus dus dat die lewensgees wat in Hom is, oorgedra word aan die gelowige. Die drink van Sy bloed verbind ons as gelowiges in Christus, in die innigste lewensgemeenskap met Hom. Die manna kon die dood nie afweer nie, maar Jesus is die brood wat lewe gee. Hy oorwin die dood en skenk die ewige lewe. Maar dit doen Hy alleen aan dié wat bereid is om deur die geloof van hierdie brood te eet en bloed te drink.


Wanneer ons hierdie onbegrip van die Jode in Kapernaum krities beoordeel, moet ons nooit vergeet dat dit net goed kan wees dat ons onsself ook so elke nou en dan ernstig sal afvra: Maar verstaan ons regtig wat dit beteken om volgeling van Jesus te wees, om in die innigste lewensgemeenskap met Hom te leef? Waarom loop ék agter Jesus aan, waarom eet ék van hierdie lewegewende brood en drink ék Sy bloed? Jesus sê vir ons in Johannes 6 dat om Hom te volg, nie noodwendig beteken om 'n vol maag en veiligheid teen al die aanslae van die lewe te hê nie, maar eerder dat dit beteken om werklik te lewe. En om werklik te lewe, sê Jesus, vereis 'n baie nabye verhouding met Hom, iets soos 'n eenwording met Jesus en die saak waarvoor Hy gestaan het. ”Dit verseker Ek julle: My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.”


Wat beteken dit prakties wanneer ons Jesus se liggaam eet en sy bloed drink. Wat 'n mens eet en drink word immers verteer en tot in die uithoeke van die liggaam versprei om deel te word van jou hele sisteem. Net so, sê Jesus, moet dit wees wanneer ons Sy liggaam geëet en sy bloed gedrink het: Christus, en die gesindheid wat in Hom was, moet óók my hele sisteem so deurtrek. So deurtrek dat ek Sy hande en voete in hierdie wêreld kan wees; dieselfde gesindheid in my is as wat in Christus Jesus was (Fil. 2:5); my hande begin brood uitdeel aan die hongeriges; ek vergifnis begin gee aan die wat dit as't ware by my afsmeek; ek dwars begin draai teen eiegeregtigheid en eiebelang; vrede soek met my naaste; met “Christusharte” leef; om sagmoedig, nederig, barmhartig op te tree – met ander woorde, wanneer ek Jesus se liggaam eet en Sy bloed drink, moet 1 Kor. 13, my curriculum vitae, my getuigskrif word.


“Wanneer jy liefhet, behoort jy nie te sê nie: ‘God is in my hart,’ maar eerder: ‘Ek is in die hart van God” (Kahlil Gibran).


Gebed: Dankie Jesus Christus, dat ek na U toe kan gaan en in opreg in U glo. Dankie dat ek daarom deur God regverdig verklaar is. Ek kan nou met vrymoedigheid – terwyl ek werk in die dag of terwyl ek rus in die nag – tot U vlug en smeek: Here, my God, my hart en my lewe is vol boosheid en sonde. Dankie dat U Seun met Sy kruisoffer vir my 'n Borg is. Dankie dat U Seun se gebreekte liggaam en vergiete bloed betaling is vir my skuld voor U. Dankie Jesus Christus, dat ek na U toe kan kom en kan eet en drink van U liggaam en bloed. Dankie Heilige Gees dat U my verenig in die geloof met Christus se geseënde liggaam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page