top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE JODE VERSTAAN NIE JESUS SE WOORDE NIE (2)


Joh. 6:47-51 – “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is My liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”


Vergelyk ook Joh. 5:26 – “Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê.”


Jesus sit Sy gesprek oor die Brood van die lewe voort deur die verskil tussen wat Hy doen en wat ‘n gewone mens doen, te verduidelik. Plegtig kondig Jesus weer aan dat “Hý die Brood is wat lewe gee”. Hierdie keer koppel Hy egter die eis van geloof daaraan. In eenvoudige taal spreek Jesus die sentrale boodskap van die evangelie uit: “Wie in My glo, het die ewige lewe.” Hy beklemtoon hierdie waarheid met ‘n versekering en wanneer Jesus iemand verseker, is dit honderd persent versekering. Wie “in Hom glo,” besit reeds in hierdie lewe, die ewige lewe. Daar is geen ander weg na die ewige lewe nie, dit kan net verkry word deur Hom. “Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kan na die Vader toe behalwe deur Hom nie“ (Joh. 14:6).


Toe die Jode van Jesus ’n sigbare wonderteken gevra het, het hulle na die manna waarmee God Sy volk in die woestyn gevoed het, verwys as so ’n teken (v. 31). Daarop kom Jesus nou terug. Weereens speel die verskil tussen die hemelse en die aardse ‘n belangrike rol. Die manna in die woestyn het die Jode se voorouers se honger tydelik gestil, maar kon niks méér doen nie, almal het nogtans gesterf. Hulle moet in gedagte hou dat die manna bedoel was om die volk liggaamlik te voed. Dit het geen werking of krag gehad ten opsigte van die lewe na die dood nie. Dit was immers nie die “ware brood” nie. Die teendeel is dat Jesus die brood van die hemel gee wat alle behoeftes vir ewig stil!! Wie van hierdie hemelse brood eet, sal nooit sterf nie.


Jesus verklaar uitdruklik dat “Hy die lewende brood is wat uit die hemel gekom het.” Jesus wil verseker dat elkeen wat na Sy prediking luister, sal verstaan dat Hy die “lewende brood” is en nie net “brood wat liggaamlik iemand aan die lewe“ hou nie. Hierdie Brood voed die lewe, maar dit het ook lewe in Homself (5:26). Jesus het eenmalig uit die hemel gekom om die lewe mee te deel, en daarom het elkeen wat Jesus as die brood van die lewe toe-eien deur die geloof, het die ewige lewe as sy blywende erfdeel!


Dan kom daar ’n verrassende wending in Jesus se preek wanneer Hy sê: “En die brood wat Ek sal gee, is My liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Letterlik staan daar “my vlees” wat op die geslagte liggaam dui, en hier sy parallel vind in “brood” as iets wat geëet word. Hierdie offer verwys na Sy kruisdood en dit is ‘n offer wat gegee word tot voordeel van die hele wêreld, en nie maar net vir ’n bepaalde volk of vir sekere uitverkore enkelinge nie. Inteendeel, Jesus skep die moontlikheid om die ewige lewe te verkry, vir alle mense – elkeen wat Jesus as Verlosser aanvaar deur in Hom te glo, het van hierdie “lewende brood” geëet, en daardie brood is tegelyk die liggaam, die vlees van Jesus. Dit is die keuse waarvoor Jesus elke mens plaas: Gaan jy van die hemelse brood eet en só die ewige lewe kry of is jou geestelike voedsel gemorskos, gevriesde kos, babakos of kitskos?


“God forseer nie Sy wil op ons af nie, Hy waarsku ons egter dat ons die gevolge van ons keuses sál dra” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Jesus, Brood van ewige lewe, dankie dat U al ons geestelike behoeftes vir altyd bevredig. Dit is die behoefte van my hart om voortdurend by U oneindige reserwebronne krag te put, nie net om die behoeftes van my liggaam te bevredig nie, maar omdat ek ‘n ewigdurende behoefte aan die Brood van die lewe het, want dáár vind ek die lewe van oorvloed en ewigheid. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page