top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


DIE JODE VERSTAAN NIE JESUS SE WOORDE NIE (1)


Joh. 6:41-46 – “Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: ‘Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.’ Hulle het gesê: ‘Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan Hy nou sê: ‘Ek kom uit die hemel?’ Jesus sê toe vir hulle: ‘Moenie so onder mekaar mor nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na my toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.”


Vergelyk ook Jer. 31:33b – “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.”


Jesus bevind Hom in die sinagoge by Kapernaum tussen die Jode wat weereens in verset teen Hom kom omdat Hy sê Hy “kom uit die hemel.” Hierdie Jode, die leiers van die plaaslike bevolking, verstaan nie wie Jesus werklik is nie. Vir hulle is Hy maar net ‘n mens, die seun van Josef. Sy ouers is beide net mense en daarom glo hulle nie dat Hy uit die hemel kom nie. Hulle weet vir baie jare al van Sy herkoms maar weet niks van Sy bonatuurlike geboorte nie, daarom maak Sy woorde van “elkeen wat die Seun sien en in Hom glo (6:40), nie sin nie. ‘n Timmerman van ‘n arm gesin in Nasaret kan onmoontlik ‘n gestuurde vanuit die hemel, die woonplek van God, wees.


Die Jode was só besig om met mekaar oor Jesus se herkoms te redeneer, dat dit hulle nie byval om God se opinie te vra nie. Hulle luister maar leer nie. Hulle luister krities, hul gebelgdheid grens aan superioriteit. Hulle is verhewe bo hierdie timmerman van Nasaret en dit veroorsaak dat hulle onverskillig van God vergeet terwyl hulle na Hom kyk. Hulle sien iemand raak wat wonders doen, Hy vermeerder brood en vis en hulle eet totdat hulle versadig is, maar weier om dieper te kyk en te luister.


Om hulle uit hulle onkunde te kry en dieper te laat kyk, leer Jesus hulle stelselmatig. Met die ongeduld en onkunde van die Jode, antwoord Jesus nie op hulle bedenkinge nie, maar laat deurskemer dat “Niemand kan na My toe kom as die Vader hom nie na My toe trek nie.” God buig neer na die mens om hom te red. Dit is Hy wat uit liefde vir die wêreld sy Seun gestuur het (Joh. 3:16). Hy beweeg ook die hart van die mens om die redding aan te neem deur die mens na Jesus toe te “trek.” Dit gaan hier om die werking van die Heilige Gees in elke mens se hart. Jesus gee vir die derde keer (v. 39,40,44) die versekering dat Hy elkeen wat deur die Vader aan Hom gegee of na Hom toe getrek word, in die laaste dag sal laat opstaan uit die dood. Daaroor mag by ons as gelowiges in Christus, geen twyfel bestaan nie.


God het ’n besondere Leermeester na die mense gestuur om hulle te onderrig in die weg van verlossing, sodat van die gelowiges gesê kan word dat hulle deur God geleer is. Hierdie goddelike onderrig het die uitwerking op dié wat die Vader na Jesus toe trek, dat hulle gehoor gee en gewillig is om te leer; hulle ontvang die Woord met ’n gelowige hart en onderwerp hulle aan die onderrig in die weg tot redding. Hulle kom dan na Jesus toe, dit wil sê hulle neem in geloof hulle toevlug na Hom.


Wie is hulle? Hulle is die mense wat hulle deur Jesus laat leer. Hy is die enigste Een wat die Vader gesien het en dus eerstehands weet wat die Vader sê en leer. Daarom is daar geen twyfel dat Hy inderdaad uit die hemel kom. Die mense wat hulle dus deur Jesus laat leer, kan weet dat hulle deur God na Hom “getrek” is.


Dit is steeds God se wil dat ons die ewige lewe sal hê. Die keuse bly egter by elke mens of hy/sy na Jesus toe wil gaan. As ons vir altyd wil lewe, moet ons in Jesus glo en hier op aarde reeds lewe volgens die riglyne wat Hy stel en wat in Sy Woord uitgestippel word. ”Ek is die brood wat uit die hemel gekom het” sê Jesus. Watter soort brood is jy? Standaard, rog, skimmel, volgraan, taai korsie?


“As Jesus nie werklik God was nie, hoe sou Hy ons kon help? En as Hy nie ook werklik mens was nie, hoe sou Hy ons kon help? (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Dankie Here dat ek nou reeds mag weet dat as ek in U glo, ek eendag uit die dood sal opstaan en die ewigheid saam met U sal deurbring. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page