top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


WEEK 6 – RESPEK VIR MY VYANDE (3)

1 Pet. 2:13-17 – “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys. Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ʼn einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik as dekmantel om kwaad te doen nie. Gebruik dit om God te dien. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser.”

Vergelyk ook Matt. 5:46-47 – “As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?”

Ons sien daagliks hoe regeringsleiers wêreldwyd, ten alle koste na mag soek en na mag gryp. Dit sluit Suid-Afrika nie uit nie, inteendeel, die regering van die dag maak baie Suid-Afrikaners baie warm onder die kraag. Sonder om ons verder op die politieke absurdheid te verlaat, hoe behoort Christene op te tree teenoor Petrus se beroep: “Omdat die Here dit wil, moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid, of dit nou die keiser as hoogste gesag is of die goewerneurs as sy gevolmagtigdes wat dié wat kwaad doen, moet straf, maar dié wat goed doen, moet prys.”

Wat doen ons méér as die wêreld? Hoe kan ‘n mens in die regte verhouding met jou medemens kom wat anders is as die wêreld se voorbeeld? As genade-ontvangers, is dit ons plig om in liefde met almal te leef. Ons moet anders wees as die tollenaars. Jesus waarsku ook: “As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie” (Matt 5:20). En die wet is om met God en ons naaste in die regte liefdesverhouding te wees, selfs met ‘n korrupte regering.

Maar.... Ek kan nie só lief hê nie! Is dit nie ‘n “tall order” nie? Ek kan nie in liefde saamleef met moeilike mense nie. Die ligsinniges, die ontugtiges, die onsedelikes, die vuil praters, die goddeloses, die korruptes, en nog baie ander, is juis hulle wat my weghou en weglei van God af. Ek kan nie vir hulle respek hê nie. Ek beskou hulle as my vyand! Ek sal dus nie ‘n goeie dissipel van Jesus kan wees nie. Ek kan nie my naaste en veral die moeilikes so liefhê soos wat Jesus verwag nie. Ek kan nie maar net anderpad kyk terwyl hulle bedrieg, steel, beswadder en met ‘n verkeerde lewe voortgaan asof dit vir ewig gaan hou nie. Ek moet my misnoeë te kenne gee!

Jesus het nie ‘n onbereikbare ideaal gestel nie want Hy weet God kan hierdie ideaal van naasteliefde deur die werking van die Heilige Gees moontlik maak! “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie“ (Rom 12:20-21).

Ons moet steeds liefde betoon aan almal, nie oor hulle verkeerde dade nie maar om hul persoon. Dit is nie ons plig om te oordeel nie. Hulle moet self vir hul verkeerde dade verantwoordelikheid aanvaar en sál beslis eendag voor die Regterstoel sélf moet verduidelik. En ons gelowiges? “Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Ef 4:24). As volgeling van Jesus is ons radikaal verander deur die Gees. Dit gun ons om daagliks só te lewe om as voorbeeld vir ander te wees, om hul lewe te verander sodat hulle ook strewe om na die wil van God en Sy beeld, te wil leef. Dít maak ons anders!

‘n Goeie voorbeeld ontbloot die duisternis en bring ons “vyande” ook in die lig. Ons mag nie toelaat dat satan ons aftrek in dieselfde donker put waar dié wat oor ons in gesagsposisies aangestel is, hulle bevind nie. God is nie beïndruk met posisies van mag wat mense misbruik en manipuleer nie, en as ons satan toelaat, dan “maak ons net soos die tollenaars en heidene.”

“Moenie jul leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is” (Rom. 12:2).

Gebed: Dankie Gees van God, dat U ons lei om ons “vyande” uit die donker te bring na die lig. Nou is dit makliker om mekaar uit dankbaarheid te ondersteun en in liefde teenoor mekaar te leef. Dankie vir agapé-liefde – liefde ten spyte van.....onderdanig ten spyte van.... Werk deur ons Here, om in liefde te leef want dit oortref alles in waarde. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page