top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 5 – RESPEK VIR MY NABY-MENSE (6) – RESPEK VIR MY FAMILIE


Ef. 2:14 – “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.”


Die fyn leser sou opgemerk het dat die afgelope 5 dagstukkies wat handel oor “Respek vir my naby-mense,” ingedeel is in: Respek van kinders vir ouers; ouers vir kinders; die huwelik, man teenoor vrou en vrou teenoor man. Vandag sluit ons af met ons familie as deel van my naby-mense.


“Jou vriende kan jy kies maar ongelukkig moet jy jou familie aanvaar soos hulle is”. ‘n Welbekende gesegde wat deur menigte mense al ge-uiter is, maar Bybels natuurlik nie korrek is nie. “Die Vader het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is” (Ef. 1:3). Die Vader wil vir ons familie alles gee wat ons nodig het, alles. Ons kan dit egter net deur Jesus kry. In Efesiërs kom die term "in Jesus" 27 keer voor en is dit dan ook die woorde wat die meeste in die boek voorkom. Paulus wil graag dat ons moet onthou dat 'n mens die seëninge en volheid net “in Jesus” kry, en deel van hierdie seëninge, is ons familie.


Wat het Jesus kom doen? Paulus skryf dat Hy vir almal wat in Hom glo, “deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” bewerkstellig het. Ons het as familie vrye toegang tot die Vader. God is vir almal Vader, wat nét deur Jesus na Hom toe kom – “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6). In die eerste plek geld dit vir die breë familie van God. Hy is nie Vader vir een kultuurgroep, volk, taalgroep of kerk, en nie vir die ander nie. Die Bybel kan dit nie sterk genoeg stel nie: geen mens, kerk of volk het alleenreg, of 'n groter reg as ander op die Vader nie. Nêrens in die Bybel kry ons enige plek waar God Hom eksklusief vir ‘n paar mense beskikbaar stel nie. Wanneer iemand deur Jesus na Hom toe gekom het, is God volledig, in alle opsigte, sy of hulle Vader.


Dit geld ook vir ons familie! Jesus het die deur vir al die lede van ons familie na die Vader oopgemaak. Hoe die geskiedenis of samestelling of huidige situasie van ons familie ook al mag wees, kan ons weet: ons het deur Jesus ‘n Vader en ons het vrye toegang tot die Vader. Soos Hy die Vader vir Jode en nie-Jode geword het is Hy die Vader vir heel families en gebrokenes. Die eerste vraag is natuurlik of daar in die Bybel een model vir families is wat ons net moet ontdek en toepas. Daar is nie! Ons moet hulle aanvaar en respekteer soos hulle is.


Ons samelewing bestaan uit ‘n wye verskeidenheid families – kernfamilies (eerste huwelik ouers en kinders), saamgestelde families (tweede huwelike waar dit my, jou en ons kinders is), oupa en ouma families (beide ouers is dood en nou maak oupa en ouma hulle groot), enkelouers (waar ouers geskei is of waar een van die huweliksmaats gesterf het) en dan selfs “childheaded families” (beide ouers is dood en die oudste van die kinders, is dan in beheer van die familie. Hoe moet ons hieroor dink? Dit maak nie saak nie, die vraag is eintlik hoe dink God daaroor? Hoe leef God verskeidenheid? In die eenheid en verhouding tussen die Drie-eenheid vind Christene ’n voorbeeld van wat dit beteken om aan mekaar verbind te wees en in verhouding tot mekaar te leef en te respekteer (Joh. 17).


God gee vir elke lid in die familie ‘n besondere vermoë waarmee die lid die res van die familie moet respekteer, dien en ondersteun. Menigte mense het al ondersteuning en rus gevind in die bekende woorde van Ps. 23:4 – “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” Die belangrike is dat die Here ons hande en voete en mond gebruik om sy ondersteuning op aarde sigbaar te maak. Een van die mooiste dinge wat ons seker vir mekaar kan sê is: “Ek is daar vir jou. Dit maak nie saak hoeveel draaie die lewe met jou loop nie. Ek is daar vir jou.” Lewe in liefde, dis die eerste, dis die beginsel, dis die wegspringplek – lewe in liefde. Ook in ons familie. As ons Sy voorbeeld wil volg in ons familie, moet ons in liefde leef. Liefde kweek respek!


“Familie besoek jou in voorspoed alleen op uitnodiging, maar in teëspoed verskyn hulle ongenooid” (Theophrastus).


Gebed: Here, oral waar ek gaan, laat ek vingerafdrukke agter: op die hande wat ek aanraak, deurknoppe, eie-familie, familie-in Christus – oral. Here, help my om vandag waar ek ook al gaan hart-afdrukke na te laat. Hart-afdrukke van regverdigheid en deernis; van begrip en liefde; van barmhartigheid en belangstelling; hart-afdrukke van hartlikheid en vriendelikheid, van omgee en respek. Mag my hart vandag 'n ander hart aanraak en 'n afdruk laat van U liefde. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page