top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


WEEK 1 – DIE EFFEK VAN RESPEK (3)


Fil. 2:5-11 – “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van die Vader.


Hierdie “Christus-himne” is eintlik ‘n lied tot eer van Christus. Dit juig oor ons verlossing in Christus. Dit bring eer aan Christus wat Homself gegee het en God se straf vir sonde aan die kruis gedra het. Daardeur is ons uit genade met God versoen! Christus is méér as net ‘n voorbeeld vir ons, Hy is Verlosser, Hy het ons bevry! Uit genade is ons bevry van die noodlottige gevolge van sonde. Hy het ons verlos van ons onsekerhede en vrese vir die toekoms. Hy bevry ons van die dringendheid om onsself te laat geld en ons eie belang voorop te stel. Hy bevry ons van selfsug en selfbelang, van najaag en smag na eie eer… want ons het alles in Christus ontvang!


Wanneer ons “dieselfde gesindheid van Jesus” toepas, besef ons dat die Here ons in besit neem, feitlik “gevange” neem – besef ons dat ons waarde lê die eerste plek en op die ou end daarin dat ons in Christus is. Ons is nou deel van Christus se familie. Ons sien onsself soos wat God ons sien en besef dat ons voor God waarde het. In Christus vind en ontvang ek my waarde en ontvang ek die nodige respek van ander. Daarom moet ek na ander mense kyk met God se bril want ek kan nou leef, bevry van myself, en met ‘n nuwe gesindheid kan ek ‘n “uitdeler-van-liefde” soos Christus word.


God gee deur Sy wonderlike genade wat niemand van ons kan wegneem nie. Sy genade is oral, ons moet dit net raaksien met die oë wat ons uit genade van God ontvang het. Deur genade kan ons Jesus se gesindheid openbaar. Dit open ‘n nuwe aarde waar ons mede-erfgename van Jesus word. Dit is nie nodig om “met mag en krag” in jou doel te slaag nie want “deur die Gees” van God sal jy baie meer vermag (Sag 4:6). Wanneer ons egter na die verskillende media kyk en luister, blyk dit dat God se genade afwesig is in die wêreld wat gekenmerk word deur oorloë, geweld, godsdienstwiste, verbrokkeling van gesinne en nog oneindige ander konflikte en probleme.


Mense leef asof God se genade nie bestaan nie! Dit is asof mense ‘n ingebore weerstand het teenoor genade. Maar, God het die wêreld toegegooi met genade sê Jesus: God laat die son opkom oor slegte mense en goeies; laat reën oor dié wat reg doen en dié wat verkeerd doen (Matt.5:45); die voëls versamel elke dag kos sonder dat hulle saai of oes; Hy kleur die velde en berghange in met ‘n magdom verskeidenheid blomme en struike en versier daar waar mensehande nie kan bykom nie (Matt.6:26-29); ‘n Vader wat Homself in die openbaar verneder om na ‘n seun te hardloop en hom soen en omhels, dié seun wat die helfte van die familie se besittings verkwis het; ‘n Vader wat nie net die son en maan en sterrestelsels in die hemelruim opgehang het nie, maar Sy enigste Seun aan ‘n vloekhout laat ophang het!!! Is dit nie ‘n God van genade nie???


God is almagtig; God is oral; God se genade is oneindig, ons moet net bereid wees om met vertroue daarop te wag sodat Sy genade ons in besit neem. Wanneer God my in besit neem word ek as’t ware ‘n “gevangene” van Hom, dan besef ek dit gaan nie oor my nie, maar oor Hom. As ‘n bevoorregte gevangene van Hom meld ek aan vir diens sodat ek uit dankbaarheid, Sy oorvloedige genade kan aangee aan ander. Het God jou al “gevang” met Sy Woord, Sy Evangelie, Sy alomteenwoordige liefde, Sy genade, of is jou gebedslewe besig om te vervlak, vervaag Jesus se nabyheid, raak kerkbesoek meer sporadies, word Bybellees moeite, traagheid om betrokke te raak, vervreem van mede-Christene, vreemde paaie wat wink? Dan is jy besig om die wekker aanhou dood te druk en later hoor jy hom nie meer nie! Indien God jou nog nie “gevang” het nie, onthou jy was die oorsaak vir Sy Seun se reis aarde toe!


“Die aarde, my broerse, die is die Jirre s’n, die Kalarie, die mense ennie hele goeters da-in;

En als wat nog annerdag moet kom, behoort eentlik hoeka al kla aan Hom”

(Ps. 24 in Griekwa-Afrikaans deur Hans du Plessis).


Gebed: Here Jesus, U is die onderhouer van die skepping. U hou die planete in hulle bane; U keer dat die aarde met sy sondige bewoners nie uit sy vasgestelde skuinshoek tol nie; U sorg vir die kriek, die wurmpie, elke diersoort en veral vir my. U het my silwerskoon na buite en binne gewas by die Golgota-wassery. Here, neem my in besit sodat ek al hoe meer vir U kan leef. Neem my “gevangene” om deur genade in U diens te staan. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page