top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE GETUIENIS OOR JESUS (3) – DIE SKRIFTE


Joh. 5:39-44 – “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie. Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie. Ek het in die Naam van my Vader gekom en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar.


Vergelyk ook Mark. 13:5-6 – “Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei.”


Die derde getuienis wat Jesus aanhaal om te bewys dat Hy die Seun van God is, is die Skrifte. Vir die Jode het die Skrifte absolute gesag gedra. Hulle weet dat hulle die pad na “die ewige lewe daarin sal vind”. Hulle belangstelling bly egter in so ’n mate gerig op die eise van die wet dat hulle nie opmerk dat die Skrifte heenwys na die Messias, die Verlosser, wat sal kom nie – dat “dit juis die Skrif is wat oor My getuig.”


Die Fariseërs en skrifgeleerdes het gedink dat God met hul kennis van die Skrifte, in Sy skik sou wees. Hulle kon lang en ingewikkelde gedeeltes uit die Skrif bestudeer, uit die kop opsê en God se gebooie voordra. Dit is egter bekend dat hulle die gebooie aangepas het en hulle eie “formules” bygevoeg het. Die Jode van Jesus se aardse tyd het ongelukkig die wet se oorspronklike bedoeling verdraai om by hulle voorkeure in te pas. Hulle het een beginsel onvolmaak aangegryp: God se wil moes in alles gesoek word en Sy dissipels moet hul hele lewe daaraan toewy om dit toe te pas. Hulle keuse was die regte een maar waar hulle verkeerd gegaan het, was om die wil van God tussen hul magdom mensgemaakte reëls en regulasies te vind.


Alhoewel hulle die Skrif geken het, het hulle nie ‘n verhouding met God gehad nie. Hulle was trots op hulle Skrifkennis, maar die uitnodiging om God se Seun te ken, verwerp. Hoe kon dit gebeur dat intelligente mense wat die Skrifte dag en nag bestudeer het, nie Jesus daarin identifiseer nie? Genesis 1:1 begin met die Skeppingsverhaal waar Jesus teenwoordig was en Openbaring 22:21 verwys na Jesus wat weer gaan kom; die 1188 hoofstukke tussenin van ons Bybel, ís Jesus Christus!! Dit is wel moontlik om Hom nie te identifiseer nie, wanneer die Skrifte met ‘n geslote opinie bestudeer of gelees word – “what’s in it for me?” Dit word nie gelees om God daarin te vind nie maar om argumente te vind om hulle eie posisies te verbeter. Dit word nie gelees en bestudeer omdat hulle liefde vir God dit noodsaak nie, dit gaan om hulle eie idees van Hom te vorm. Hulle aanbid ‘n god wat dinge geskryf het in plaas van ‘n lewendige en handelende God van die Bybel. Die funksie van die Skrifte is nie om lewe te gee nie, maar verwys na Hom wat die lewe kan gee! Daarom kon hulle nie die Lewegewer identifiseer terwyl Hy in hulle midde was nie.


Jesus bevestig dat Hy “in die Naam van Sy Vader gekom het en tog aanvaar hulle Hom nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal hulle hom aanvaar”, want daar was baie vals “leraars” in hulle midde wat tekens en wonderwerke gedoen het wat die mense graag wou sien, dinge wat meer by hulle verwagtinge en behoeftes pas (Mark. 13:21-22). Jesus het hulle egter gewaarsku teen sulke bedrieërs maar die mens is geneig om eerder “iets anders” te soek. “Iets anders” wat te vinde is by hierdie bedrieërs wie se beloftes van die maklike weg van materialistiese rykdom, eerder nagevolg word as die Een wat die Kruis aangebied het; die Een wat aan die anderkant van die “nou poort wat na die nou pad lei” (Matt. 7:13-14), gevind kan word.


Ons kan dalk in die versoeking kom om plaasvervangers te kies. Dit is nie noodwendig slegte dinge nie. Dit kan dinge wees wat insluit om op die kerkraad te dien, kospakkies aan behoeftiges uit te deel, Christelike boeke te lees, gereeld kerk toe te gaan, Bybelstudie te doen en vele ander. Maar geen hoeveelheid Christelike werk sal ooit jou verhóúding met die lewende Jesus vervang nie. Jy kan die hele Bybel uit jou kop ken en in staat wees om die fynste detail van Bybelse geleerdheid met ander te deel en nogtans in gebreke bly om die waarhede van God se Seun op elke bladsy te ervaar. Dit help nie om nét met die dinge van die Here besig te wees nie en daardeur die Here van die dinge nie te herken en erken nie. Die Here van die dinge argumenteer nie met die Jode of met ander mense nie, Hy gee feite omdat Hy hulle liefhet en hulle wil red!


“Die siekte waarmee die menslike geslag geen raad het nie, is ‘n gebrek aan geloof”

(Ralph Emerson).


Gebed: Heilige Jesus, hou my denke op U gerig. Vergewe my wanneer ek my besig hou met godsdienstige werksaamhede eerder as ‘n persoonlike, lewende en groeiende verhouding met U. Laat my saam met Paulus alles prysgee wat waardeloos is, dit selfs as verwerplik beskou want om U, Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde – ewigheidswaarde (Fil. 3:8). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page