top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE GETUIENIS OOR JESUS (1) – JOHANNES DIE DOPER


Joh. 5:30-35 – “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is. Julle het ‘n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid. Nie dat Ek op die getuienis van ‘n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word. Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle ‘n rukkie in sy lig te verheug.”


Vergelyk ook Deut. 19:15 – “Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.”


Wie is hierdie Jesus? Dít is die vraag wat die Joodse leiers graag beantwoord wil hê. Groot konflik het tussen Jesus en hulle ontstaan na die genesing van die man op ‘n sabbat. Hulle dink Jesus is iemand wat God laster, terwyl Jesus verduidelik Hy is die Seun van God. Maar wie is reg? Die Joodse leiers aanvaar nie Jesus se getuienis oor Homself nie, trouens, dit is nie regsgeldig nie, “twee of drie onafhanklike getuies” was nodig om die waarheid van ’n saak te bewys. Om aan hierdie voorskrif te voldoen, haal Jesus vier getuies by om die waarheid van sy aansprake te bevestig: die Vader, Johannes die Doper, die Skrifte en ook Moses.


Weer eens stel Jesus voorop dat Hy niks uit sy eie doen nie. In alles handel Hy in die nouste verbondenheid met die Vader en doen Hy net wat Hy by die Vader sien (v. 19) en wat Hy van Hom hoor. Dit beteken nie dat Jesus in werklikheid maar net die oordeel van die Vader uitspreek en gevolglik geen eie selfstandigheid het nie. Jesus se enigste strewe is om die wil te doen van God deur wie Hy gestuur is, en die wil van die Vader is dat aan elkeen reg moet geskied. Die getuienis van God behoort vir die Jode so oortuigend te wees dat dit vir Jesus nie nodig is om meer getuies by te haal nie. Tog doen Hy dit, en eerstens verwys Hy na Johannes die Doper.


Die mees ooglopende getuie is Johannes die Doper. Die Jode het ’n afvaardiging na die Doper gestuur om hom te ondervra oor wie hy was en wat die inhoud van sy boodskap was (Joh. 1:19-27). Daar het hulle vasgestel dat Johannes op Jesus gewys het as die Een wat sou kom en as die Messias, die Seun van God (Joh. 1:32-34). Sy getuienis was die waarheid en was daar niks mee verkeerd nie. Daarom moes die Jode dit ter harte geneem het, maar hulle het dit nie gedoen nie.


Al bly die getuienis van die Doper van krag, het Jesus nie nodig om Hom op die getuienis van ’n mens, te beroep, as bewys dat Hy werklik die Seun van God is nie. Al was die Doper ‘n gesant van God, was hy as mens verganklik. Jesus kon na meer gesaghebbende getuies verwys maar tog het Hy die getuienis van die Doper bygehaal omdat die Doper op die Jode ’n beroep gedoen het om hulle te bekeer sodat hulle gered kan word. God het hulle nie in onkunde oor die koms van die Messias gelaat nie; Hy het die wegbereider, Johannes, gestuur om tot bekering op te roep.


”Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het”, getuig Jesus van die Doper. Hy was “die lamp”, dus iemand met ’n bepaalde opdrag en funksie op die keerpunt van die geskiedenis. Maar soos ‘n lamp wat ‘n rukkie brand en dan doodgaan, so was die getuienis van die Doper. Vir ‘n rukkie voel mense gelukkig oor die lig, maar soos dit met mense gaan, is dit net tydelik. Die Jode het hom erken as ’n profeet; hulle het sy prediking aangehoor; hulle laat doop en was bly dat God sy volk deur so ’n prediker besoek het. Maar hulle vreugde was van korte duur. Sodra Johannes van die toneel verdwyn het, het hulle van sy prediking vergeet.


‘n Lamp gaan nie vanself aan nie, dit moet aangesteek word. Die funksie van die aangesteekte lamp is om iemand veilig deur die donker na sy bestemming te lei. Die Doper het as “lamp” probeer om die Jode na bekering te lei maar dit blyk dat hy slegs ‘n sensasie was, aangenaam om na te luister mits hy dinge sê waarvan die mense hou en dan verwerp word wanneer hy nie meer “na my wense preek nie”. Die kerkdiens word geniet wanneer die leraar “perform” het en wanneer hy mense se gevoelens gestreel het. Sodra daar op tone getrap word, gaan soek hulle net ‘n ander “sensasieplek”. Die feit van die saak is dat God se waarheid nie altyd strelend vir die mens is nie – Amos is weggejaag; Jeremia is gearresteer en gemartel; Luther is uitgeban; die Doper is onthoof maar die EEN waaroor dit gaan, Jesus Christus, het gebly by die waarheid. Hoe klink jou getuienis oor Jesus?


“Die kerk se toring wys na bo wat ‘n Nuwe sin en ander Rigting aandui! (Malcom Johnson).


Gebed: Here, dankie dat U Woord die waarheid is, dat Uself die waarheid is. Help my om aan U woorde getrou te bly sodat ek waarlik U dissipel sal wees en die waarheid my sal vrymaak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page