top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE SEUN MAAK LEWEND (2) – DIE SEUN WAARBORG DIE EWIGE LEWE


Joh. 5:24 – ”Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”


Vergelyk ook Tit. 1:1-2a – “Ek (Paulus) het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe.”


Met groot nadruk spreek Jesus ’n sentrale waarheid uit ten opsigte van die redding van die mens, wat weens die sonde dood is onder die oordeel van God. Die weg tot redding is egter moontlik deur die eenheid van Vader en Seun. Vir die redding stel Jesus twee vereistes wat wesenlik op dieselfde neerkom. Die eerste is om te “luister na wat Ek sê”. Die gelowige aanvaarding van die blye boodskap van verlossing wat Jesus kom verkondig het, is die eerste tree op die pad na die ewige lewe. Maar daar is ook ’n tweede, en dit is om “in Hom te glo wat My gestuur het.”


Wat beteken dit om te “luister na wat Ek sê” en “in Hom te glo wat My gestuur het”? Eerstens is God soos wie Jesus sê Hy is – Hy is liefde. Tweedens is dit om die lewe te aanvaar wat Jesus aanbied, al is dit hóé moeilik (kruis opneem) en al is daar baie opofferinge om te maak – dit is egter die enigste weg na hoop, vrede, vreugde en liefde. Enige ander weg is die dood en ewige oordeel. Derdens behels dit om die hulp wat die opgestane Jesus aanbied, te aanvaar en onder leiding van die Heilige Gees die krag te ontvang om op die regte pad wat na die ‘nou poort’ volg, te bly – “Die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Matt. 7:14). Ons gelowiges “glo God” omdat God waaragtig en geloofwaardig is. Wie God op hierdie wyse glo, sal besef dat onderhouding van die gebooie, soos die Jode doen, nie voldoende is om die ewige lewe te verkry nie. Daar moet ook geloof wees in die openbaringsdaad van God soos dit volvoer is in die koms van Jesus Christus.


Wanneer ons “luister na wat Ek sê en in Hom te glo wat My gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer jy jouself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan jy uit die dood oor tot die lewe. Jy leef nie meer ter wille van jou eie selfsugtige belange nie. Die tydverdrywe en dinge wat jy vroeër gekoester het, het nie meer dieselfde aantrekkingskrag nie. Die doelstellings wat jy so naarstigtelik nagejaag het, lyk nie meer so belangrik nie.


Jou houding teenoor jou naaste verander ook. Jou hartsgesindheid laat haat in liefde verander, selfgerigtheid en selfsug verander in diens aan ander, bitterheid verander in vergifnis. In plaas daarvan dat jy gryp wat jy kan kry, vind jy vreugde in jou vrygewigheid. Jy self verander van ‘n swakkeling na iemand met selfvertroue en krag, frustrasie word oorwinning en spanning word vrede. Jou irritasies en klagtes van vroeër verander in aanvaarding van moeilike tye. Jy eer nie God net met jou mond nie, Hy word deel van jou hart. Om die weg van Jesus te aanvaar beteken om van die dood na die lewe oor te gaan, om lyding as ‘n geleentheid te sien om God te verheerlik, reeds in hiérdie lewe.


Watter wonderlike belofte en versekering dat jý, as jy na die woorde van Jesus luister en in Sy Vader glo, nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat jy rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het!


“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ....! Ware geloof is nie om hemelpastei te eet nie; dit is om kruis te dra. Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).


Gebed: Dankie Here vir U genade. Voordat ek oorgegaan het na “die lewe” en U eerste begin stel het, was ek die belangrikste persoon in my beperkte klein wêreldjie. Voorheen was my liggaam ‘n bron van genot, maar nou word dit ‘n tempel van die Heilige Gees. Voorheen het ek U probeer oorreed om alles te doen wat ek wil hê en soos ek dit wil hê, maar nou vind ek vreugde en betekenis deur te doen wat U van my verlang. Ek moet egter bely dat ek nie altyd suksesvol in my pogings is nie, daarom is ek dankbaar dat U Gees my lei in die waarheid. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page