top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE SEUN MAAK LEWEND (1) – VERHOUDING TUSSEN VADER EN SEUN


Joh. 5:19-23 – ”Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: ‘Dit verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.”


Vergelyk ook Fil. 2:9-11 – “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke Naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van die Vader.”


Die beskuldiging teen Jesus dat Hy die sabbat geskend en Hom met God gelykgestel het, is uiters ernstig van aard en daarom antwoord Hy met groot nadruk daarop: “Dit verseker Ek julle .....” Wat die Jode as ontheiliging van die sabbat beskou, is in werklikheid juis die uitvoering van die wil van God; en wat hulle as Godslastering bestempel, is juis uitdrukking van die ware verhouding tussen die Vader en die Seun. Dit beteken dat hierdie verbintenis só innig is dat Jesus uit eie keuse, alles wat die Vader gedoen wil hê, doen.


In die woorde van Jesus kom twee aspekte van sy verhouding tot die Vader dus na vore: aan die een kant is Hy gelyk met die Vader en tree met Goddelike mag op; aan die ander kant is Hy in die uitvoering van sy Middelaarswerk volkome gehoorsaam aan die Vader en tree Hy daarom op met die gesag van Hom deur wie Hy gestuur is. In die uitvoering van Sy Middelaarswerk, verklaar Jesus dat die Vader Hom in staat sal stel om nog groter dinge te doen as dié wat tot dusver gesien is en dít, sal hulle verbaas. Die groter dade behels om dooies lewend te maak. Dit verwys egter nie net na dié wat in die graf weggelê is en by die eindoordeel uit die dood opgewek sal word nie, maar mense wat liggaamlik en geestelik dood is – mense wat liggaamlik in die lewe is maar geestelik dood is. Om geestelik dood te wees beteken om los van God te wees deur die sondeval as gevolg van jou eie sonde en skuld. Jesus kan ook die “geestelike dooies”, lewend maak.


Waar die eenheid van Vader en Seun geëerbiedig word deur die luister na die Seun en die glo in die Vader, word die ewige lewe die onmiddellike besit. Reeds in hierdie lewe, op die oomblik van geloofsgehoorsaamheid, begin die ewige lewe. Die eindoordeel sal wel nog daar wees en almal sal voor die regterstoel van Christus moet verskyn, maar vir die gelowige is daar nie ’n “veroordeling” nie. Hy het immers reeds in hierdie lewe uit die dood van sonde oorgegaan na die ewige lewe. Daar het in sy lewe ’n keerpunt gekom en die gevolg daarvan bly voortbestaan in hierdie lewe en hierna!


Die grootste lewensbeslissing waarvoor 'n mens ooit in jou lewe te staan kan kom, is ongetwyfeld die beslissing oor wie Jesus van Nasaret werklik is. Wanneer dit by Jesus kom, kan jy nie neutraal bly nie. Opvallend dat mense wat krities-afwysend teenoor die Christelike-geloof staan, daarvan terugdeins en wegskram om 'n beslissing te maak oor die ongelooflike aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het. Ons gelowiges het egter grootgeword met Jesus se aansprake en dit van ons kinderjare af, al honderde male gehoor en gelees en daarom “hoor” ons miskien nie meer hoe radikaal dit is nie. Ons dink dit was maar normaal van Hom om só te praat. Ons het nodig om weer te hóór wat Jesus sê.


Indien Jesus is wat Hy sê Hy is, MOET jy jou totaal aan Hom onderwerp. Hy is nie maar net 'n goeie Leermeester, perfekte voorbeeld of getroue profeet nie. Hy is die Seun van God en Regter van hemel en aarde! 'n Bedrieër kon Hy nie wees nie, want watter bedrieër sou gewillig wees om as onskuldige na die dood van die kruis te gaan? Nee, Sy aanspraak oor Homself is dat Hy die HERE is. Daarom sal elke mens voor Hom staan met die oordeelsdag. Die aakligste verrassing wag op miljoene misleide mense wanneer hulle (en ons elkeen) ontdek dat Jesus se aansprake oor Homself al die tyd die waarheid was!!! Jesus se aansprake is: Hy ís dié Seun van God; Hy ís dié Gewer van lewe. Hy ís dié Verlosser. Hy ís dié Regter van hemel en aarde. Indien Jesus die Seun van God is, is dit godslastering om Hom NIÉ te aanbid nie! Verwerp jy die uniekheid van Jesus van Nasaret, verwerp jy God en verwerp jy jou eie saligheid. ANGSWEKKEND!!!!


“Christus was God wat Homself in ‘n taal kom uitspel het wat mense kan verstaan”

(Billy Graham).


Gebed: Here, maak ons geestelike dooies weer lewend! Dit is interessant hoe ons as mense is: ons beplan en begroot en beveilig soveel dinge wat ónseker is. Ons is nie seker óf ons huis sal afbrand en óf daar by ons kar ingebreek sal word nie en tog neem ons ten duurste, versekering uit. Ons bid egter vir baie mense wie glad nie begroot vir dít wat absoluut seker is nie: naamlik die dood, die koms van Christus en die oordeel. Ons bid vir elkeen wat dink dat U irrelevant is – vir hulle wat sien dat die lewe hulle goed behandel en dat U nie eintlik nodig is nie – Here, laat hulle die knie voor U buig en voor U voete neerval en erken: U is mý Here, mý God en mý Verlosser! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page