top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


"WIT VAN DIE OES"


JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (7) – DIE WIL VAN GOD


Joh 4:34-38 (NLV) – “Jesus antwoord hulle: ‘My kos is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om Sy werk klaar te maak. Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes. Dié wat die oes insamel, ontvang vergoeding: Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ‘n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly. In hierdie geval is die spreekwoord só waar: ‘Die een saai en die ander een versamel die oes.’ Ek het julle gestuur om ‘n oes in te samel waaraan julle nie hard gewerk het nie. Ander het hard gewerk en julle het net toegetree om die vrug van hulle werk te benut.”


Vergelyk ook Ps 126:5-6 – “Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. Al loop hy en huil terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra.”


Daar het ’n tyd verloop tussen die vertrek van die vrou en die aankoms van die eerste Samaritane uit die dorp. Die dissipels het van die dorp af kos gebring en dring nou daarop aan dat Jesus daarvan moet eet. Dis vreemd want Jesus was tog moeg en dors, maar noudat alles daar is, wil Hy nie eet nie. Sy antwoord is dat Hy voedsel het waarvan hulle nie weet nie. Net soos met die vrou, begin Jesus die gesprek deur na iets stofliks te verwys, die water en nou die voedsel. Hy wil nie te kenne gee dat Hy en sy volgelinge heeltemal sonder voedsel moet klaarkom nie, maar wel dat die prioriteite reg moet wees. Wanneer die belange van die koninkryk van God dit vereis, moet stoflike belange op die agtergrond geskuif word.


Jesus het aarde toe gekom “om die wil te doen van Hom wat My gestuur het.” Daarom verwys Hy na die volvoering van die wil van God as die “voedsel” wat vir Hom versadiging bring. Jesus se uitspraak getuig van volstrekte gehoorsaamheid en toewyding aan die Vader. Soos dikwels in hierdie Evangelie, (vier en veertig maal), word na die Vader verwys as “Hom wat My gestuur het.” Jesus was aan ‘n opdrag gebonde, daarom kon Hy aan die kruis met Sy laaste asem uiter: “Dit is volbring.”


In Palestina het ongeveer vier maande verloop tussen die einde van die saaityd en die begin van die oestyd. Hier is dit egter ‘n geval tussen die natuur en genade: Die vrou se boodskap is in die dorp “gesaai” en die “oes” was dadelik gereed. Die Samaritane het met hul wit klere na Jesus by die Jakobsput begin stroom en daarteenoor stel Jesus die dringendheid van die geestelike oes vir die koninkryk van God. “Kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.”


Jesus is waarlik die Messias, want Hy sien dáár waar Sy dissipels nog nie kan sien nie. Daar is 'n oes van siele wat uit Samaria ingebring moet word waarvan die vrou net die eerste gerf is. Wat die dissipels nie kon sien nie, was hoe die mense uit Sigar stroom om na Jesus te kom. Dít is die oeslande wat wit is vir die oes. Dus, as die dissipels maar die vermoë het om die toestand op geestelike gebied te sien en reg te skat, sou hulle weet dat die oes klaar ryp op die lande staan, al is dit vier maande te vroeg, dit is gereed om te “oes” vir God. In die arbeid van die koninkryk van God is dit nie nodig om ’n tyd werkloos te bly nie. Die oes is altyd daar, gereed vir die insameling.


Jesus gaan verder om die ongelooflike gebeurtenis wat voor hul afspeel, te beskryf. Om te saai was vir die Jode harde werk en gewoonlik het dit met neerslagtigheid gepaard gegaan. Oestyd was egter feestyd (Ps 126:5-6). Amos verwoord die Jode se droom oor ‘n goue era wat aan die kom is en alles beter sal gaan: “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat daar direk na die oes geploeg sal word en dat daar direk na die saaityd gepars sal word. Die berge sal van druiwesap drup, al die heuwels sal deurnat wees” (Amos 9:13). Met Jesus se koms het daardie goue era aangebreek: “Die vrug wat hulle insamel, is mense wat die ewige lewe beërf. Op só ‘n manier is hulle wat saai en hulle wat die oes insamel, saam bly.”


Om deel te kan hê aan die gesamentlike blydskap moet ons elkeen getrou bly in die arbeid wat aan ons toegesê is. Hier moet die waarheid van die gesegde in gedagte gehou word: ”Die een saai en die ander een versamel die oes.” Dit is nie net in die boerdery die geval nie, maar op elke lewensterrein. Juis ten opsigte van die werk vir die koninkryk van God is dit in besondere sin waar. Die saaier sien dikwels nie die vrug op sy arbeid nie, maar ’n ander kom ná hom en samel die oes in. Hier is egter geen rede of plek vir onderlinge afguns nie. Arbeiders in diens van die Here verskil van mekaar in oorleg en opdrag, maar saam werk ons vir dieselfde groot saak naamlik die koninkryk van God. Daarom word ons saamgebind deur gemeenskaplike blydskap en aangespoor om elk op sy eie terrein getrou aan die werk te bly. In die proses saai sommige en ander oes, tog bly dit dieselfde oes van die Here.


“Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet of drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde wat die Heilige Gees ons gee” (Rom 14:17)


Gebed: Jesus, soos hierdie Samaritaanse vrou wil ek ook dorp toe, skool toe, werk toe, kantoor toe, straat toe, of waar ook al gaan om te sê: “Kom kyk, ek het die Here gevind en Hy het my dors met strome lewende water geles. Kom saam, Hy dors ook na jou!” Dankie vir die wonderlike voorreg om deel te kan hê in U saailand. Skenk ons genade om aktief daarin te werk en nie oor te laat aan ander nie. Laat hierdie nuwejaarsvoorneme die heel jaar die kwaliteit wees wat U verwag. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page