top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (3) – ‘n SONDIGE LEWE ONTBLOOT


Joh 4:16-18 (NLV) – ”Hy sê vir haar: ‘Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.’ Die vrou het dadelik gereageer: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jesus beaam dit toe: ‘Jy het reg gesê: Ek het nie ‘n man nie. Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.’


Vergelyk ook 1 Kon 8:39 – “Luister tog uit die hemel, U woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart.”


Die Samaritaanse vrou verstaan nog steeds nie heeltemal waaroor dit gaan nie. Nadat Jesus vir haar die lewende water aangebied het, lyk sy gretig om dit te ontvang maar uit haar hele antwoord blyk dit dat sy die punt mis. Sy wil graag die water hê, maar met die eintlike doel dat sy nie meer hier by die fontein hoef te kom skep nie (v 15). Die vrou se gedagtes het gebonde gebly aan die daaglikse dinge, die drinkwater. Jesus gaan egter nie werklik op haar antwoord in nie; dit wil selfs voorkom asof Hy die onderwerp heeltemal verander.


Jesus rig haar aandag op ’n ander aspek van die daaglikse lewe, die geestelike ongelukkigheid as gevolg van ’n gebroke huwelikslewe. En daarby maak Hy aan die vrou bekend dat Hy van haar verlede weet en die vinger kan lê op die bron van haar ongelukkigheid – en Jesus druk met Sy vinger binne-in haar groot seer‘Gaan roep jou man en kom dan terug hiernatoe.’ Wat het dít nou met die saak te make? Vanwaar hierdie skielike oorgang? Sy het haar moontlik wit geskrik. “Hierdie Jood weet alles van my af! Hy weet ek het al vyf mans gehad en die Joodse wet bepaal ek mag net twee maal trou! Hy weet dat ek tans in 'n saamwoonsituasie is met die sesde man! Met wíé het ek hier te doen? ‘Ek het nie 'n man nie’, fluister sy.” Met Sy Goddelike mensekennis beaam Jesus dit. Hy wil hê dat sy moet haar dors na die waarheid ontdek – sy moet haar sondenood besef - wie sal tog water drink sonder dat jy dors is?


Jesus fokus nie verder op haar sondige verlede nie, Hy laat dit daar vir wat dit is. Hy wil graag met hierdie vrou en haar man praat, omdat Hy vir hulle wil wys wat die uitwerking en die deurwerking behoort te wees van die water van die lewe, wat sy so pas ontvang het. Man en vrou vorm immers ‘n eenheid. Indien dit die geval is, is haar lewensmaat mos die eerste persoon wat voordeel behoort te trek van die lewende water wat sy ontvang het? “Gaan haal hom dan, en laat hom ook deel in die lewende water!”


Hierdie lewende water kan nie maar in die binneste van die Samaritaanse vrou bly lê nie, dit mag nie ‘n stilstaande broeines word nie. Dit is mos nie moontlik dat sy tot geloof in Jesus kom, maar dat die strukture van haar lewe nog net so vervalle soos voorheen bly nie. Nee, hierdie water van die lewe moet effek hê, dit moet deurwerk. Die water wil deur hierdie Fontein vloei om die droë grond van haar lewe – haar lewe wat op droë grond beland het as gevolg van haar verlede – te deurvogtig. En dit begin by die mees basiese struktuur van samelewing wat God ingestel het, die huwelik. In daardie huishoudelike chaos van die Samaritaanse vrou se lewe wil Christus vernuwing en gesondheid bring.


Dít is wat die lewende water doen: Dit bring herstel in strukture, dit bring genesing in verhoudings, dit bring uitsig waar hooploosheid geheers het. Dit bring genesing in huwelike, waar man en vrou dalk jare lank nie met mekaar gepraat het nie, sodat dooie huwelike skielik weer kan blom. Dáár waar die Lewende Water vloei, kom daar herstel in gesinne waar broers en susters in onmin gelewe het, sodat die gesinslewe weer vrug kan dra. Dáár waar die Lewende Water beweeg, bring dit vernuwing in gemeentes en in gemeenskappe waar mense moeg geraak het vir die ou, bekende gesigte, sodat die mooi van ons saamlewe weer raakgesien kan word – sodat ons kan “leef met Christus harte“. Waar die Lewende Water vir Homself kanale maak om deur te vloei, dáár word die lewe nuut, dáár word droë grond deurvogtig en vrugbaar. Dáár verander gesindhede van mense! Dáár verander ‘n gewone lewe weer in ‘n mooi opwindende lewe!


Ons gemeente se leuse vir 2017 is “ONS LEEF MET CHRISTUS HARTE”. Vergun ons om julle as ons E-Kerk lesers vriendelik te versoek om saam met ons te bid dat hierdie leuse nie net iets teen ‘n bord, muur of papier sal wees nie, maar dat ons werklik met “Christusharte”, gesindhede sal openbaar wat die warmte van Christus se liefde, opborrelend sal uitdra. Julle is dan ook indirek deel van hierdie gemeente en daarom is dit ons gebed dat hierdie geestelike dinamika by julle ook realiseer, waar jy jou ook al in die wêreld bevind.


“As ons nie verander nie, kan ons nie groei nie. As ons nie groei nie, lewe ons nie werklik nie” (Gale Sheeby).


Gebed: Hemel Vader, maak my lewe ‘n fontein van lewende water wat opborrel en ewige lewe gee. Skep ‘n geestelike dinamika binne my om die ewige lewe wat U gee, nie net vir myself te hou en opgaar nie, maar dat ek hoop, vreugde en liefde aan mense om my, kan gee. Skep in my dieselfde gesindheid wat daar by Jesus was tydens sy aardse verblyf. Skep vir my 'n Christus hart. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page