top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JAKOB SE PUT

JESUS EN DIE SAMARITAANSE VROU (1) – BREEK VERSPERRINGS AF


Joh 4:1-9 (NLV) – “Jesus het uitgevind dat die Fariseërs gehoor het dat Hy meer dissipels werf en doop as Johannes. (Jesus het nie eintlik self gedoop nie, maar sy dissipels.) Dus het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe vertrek. Hy moes deur Samaria reis. Hy kom toe in ‘n dorp in die gebied van Samaria wat Sigar genoem word. Dit was naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die put van Jakob was daar geleë. Jesus het toe, omdat Hy regtig uitgeput was van die reis, sommer by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag. ‘n Samaritaanse vrou kom toe daar aan om water te skep. Jesus vra haar: ‘Gee vir My asseblief water om te drink.’ Sy dissipels was toe nog in die dorp om kos te gaan koop. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: ‘Hoe op aarde vra jy wat ‘n Jood is, vir my wat ‘n Samaritaanse vrou is, water om te drink?’ Die Jode wou immers niks met die Samaritane te doen hê nie.”


Om hierdie paar verse van Johannes beter te verstaan is dit miskien raadsaam om ‘n paar feite uit te lig. Tydens Jesus se aardse lewe was Palestina ongeveer 193 kilometer vanaf Noord na Suid. Die drie gebiede het bestaan uit Judea in die Suide en Galilea in die Noorde met Samaria in die middel. Samaria is in 722 vC deur Assirië verower en al die leiersfigure is as bannelinge weggevoer. Assiriërs is ingevoer en ondertrouery het in Samaria plaasgevind wat die bevolking nie meer suiwer Joods gelaat het en die Jode het die Samaritane as onsuiwer skeurmakers wat onrein geleef het beskou. Om dus van die Suide na die Noorde te reis is Samaria vermy en die reis het ses tot sewe dae geduur – ‘n reis deur Samaria slegs drie dae.


Om te voorkom dat die Fariseërs geleentheid kry om Hom lastig te val, besluit Jesus om Judea te verlaat en weer na Galilea te gaan waar Hy reeds ’n keer werksaam was (Joh 2:1). Indien Hy persoonlike veiligheid gesoek het, is dit vreemd dat Hy in hierdie stadium Galilea bo Judea verkies het. Herodes Antipas, wat nie gehuiwer het om Johannes die Doper gevange te neem nie, was daar aan bewind. Tog beskou Jesus hom minder gevaarlik as die Joodse teenstanders in Jerusalem. Jesus reis dus deur ‘n gebied wat deur die Jode as onrein beskou is omdat die inwoners onder andere, ‘n onsuiwer godsdiens beoefen het


Op die hitte van die dag en moeg van die reis, het Jesus “sommer by die fontein gaan sit”, naby die dorpie Sigar in Samaria. Die ware mensheid van Jesus kom na vore en as gevolg van die uitputting van die brandende son en die inspannende reis te voet, soek Hy ‘n ’n rusplek op. Die vyf dissipels wat op hierdie stadium deel was van Sy kring, het in die dorp, Sigar, kos gaan koop. Iets het intussen met hulle gebeur want hier breek hulle ook die Joodse/Samaritaanse versperrings af!


Volgens die gebruik van die tyd het die vroue teen die aand uitgegaan om water te haal, maar nou op die warmste tyd van die middaguur kom ’n alleenlopende vrou met haar waterkan na hierdie put, een van die verstes vanaf die dorpie. Dit word later duidelik dat sy weens haar twyfelagtige reputasie, rede gehad het om geselskap van ander vroue te vermy. Omdat Jesus moeg en dors was, en nie die water in die put van ongeveer 30 meter diep, kon bykom nie, vra Hy die vrou om Hom ’n bietjie drinkwater te gee.


Die vrou antwoord verontwaardig met ’n teregwysing. Dit was Joodse gebruik om liefs nie met ’n vrou ’n gesprek te begin nie, en hier praat Jesus, wat ‘n rabbi was, met ’n vreemde Samaritaanse vrou! Sy het haar plek as vrou in die samelewing geken, en wat meer is,die grondteks wil eintlik sê hulle drink nie uit dieselfde beker nie. Vir haar is dit ondenkbaar dat Jesus juis uit die beker van die Samaritaanse vrou wil drink.


Jesus is die bouer van genade-paaie. Waar daar nie ‘n pad is nie, maak Hy een. Hier sit Hy by ‘n put as volwaardige mens wat nie gevrywaar is van die moegheid en probleme wat deel is van mensheid nie. Jesus kyk verby menslike belange of beperkings en sien jóú raak – vir Jesus is as persoon belangrik. Gewoonlik sou hierdie vrou ‘n man verbouereerd vermy het, maar hier ontdek sy die warmte van Jesus se simpatie en ten einde laaste ontmoet sy Iemand sonder kritiek, Iemand wat nie veroordeel nie, maar verstaan, Iemand wat meer as vier honderd jaar se versperrings tussen Jood en Samaritaan afbreek, en Hy praat met- en luister na haar! Hier is die begin van die algemeenheid van die Evangelie – God se liefde vir die wêreld – in aksie deur Jesus Christus!


"God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons só te laat bly” (Leighton Ford).


Gebed: Here, leer my om iets van U karakter te vertoon. Maak my liefdevol teenoor my naaste, naby en ver, selfs aan hulle wat ek moeilik vind om te verdra en ook aan hulle wat my irriterend vind. Gee dat ons werklik vir mekaar sal omgee, om U liefde vir die wêreld soos deur Jesus vertoon is, te kan doen. Maak my ‘n instrument van U liefde, U wat nie net liefhet nie, maar wat liefde IS! Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page