top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (9) – DIE LIEFDE VAN GOD (3)


Joh 3:16 –“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”


Vergelyk ook Jer 29:13 – “En julle sal my soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”


Kersfees is ‘n tyd van liggies, mooi liedjies, kleure en vrolikheid. Kersfees is familietyd. Almal is bly oor Kersfees, veral ons wat verstaan dat die lewende God met Kersfees vir ons die grootste geskenk óóit – “Sy enigste Seun gegee het”. Daarmee het God sy uitverkorenes kom red en van die hel kwytgeskeld. God het vir ons die ewige Lig kom gee en wanneer al die Kersliggies so vrolik skyn, besef ons dat die hele wêreld se Kersliggies eintlik hopeloos te min is om God se geskenk aan ons, te vervang.


Nog ‘n Kersfees is gister verby. By sommige was dit ‘n Christusfees en by ander ‘n normale feesvieringsdag wat eintlik die begin was vir die aanloop na die nuwejaarsvieringe. Met die Christusfees het ons opnuut Jesus se koms na die aarde toe gevier. Dit was die dag toe God die Vader Homself tot sondaars toegekeer het of soos ‘n dogtertjie aan haar maatjie verduidelik het: “Kersfees is daardie dag toe God by die trappe van die hemel afgekom het met ‘n Babatjie in Sy arms.” Daardie dag het hierdie “Babatjie” ‘n onherroeplike woonplek by sondaars kom maak want wanneer die Here Jesus mens word (Joh 1:14), is dit nie sommer net ‘n gewone baba wat daar in ‘n krip lê nie, dis God self wat Hom na sondaars draai. Na álle sondaars, die mensdom as geheel – vanaf Jerusalem, Judea, Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.


Die vraag is nou: Wat maak ons ná Kersfees met die Geskenk wat God vir ons uit liefde gegee het? Soos die “Wyse manne uit die Ooste” die Baba Jesus in die krip gevind het, het ons Hom opnuut weer in die krip gevind. Gaan ons egter steeds na Jesus soek? Die wyse manne het niks ontsien om Jesus te vind nie, gaan ons ook wys genoeg wees om hom te soek en vind? Diegene van ons wat wys genoeg is sal saam met Jeremia van die Ou Testament weet Hy kan gevind word as ons met “ons hele hart na Hom soek.”


Ons bevind ons in ‘n wêreld waar baie mense nie meer erg het aan die waarheid dat “God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Tyd word ingeruim vir wêreldsdinge en baie leef asof hul vir ewig gaan leef. Jesus is in ‘n kompartement geplaas waar Sondae, en in baie gevalle, slegs sommige Sondae, aan Hom afgestaan word in ‘n formele kerkdiens of sommer oor die radio of TV. Die weg na die Vader is ongelukkig nie deur politieke partye, geleerdheid, wetenskaplike eksperimentering of enige wêreldsdinge nie. Petrus het duisende jare terug al gesê: “Jesus bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand 4:12). Wyse manne en vroue weet dat Jesus die antwoord op die sondeprobleem is – “Hy is die weg, die waarheid en die lewe” (Joh 14:6).


“Jesus se pad stop by die voordeur van dié met stukkende lewens – nooi Hom in”

(Stephan Joubert).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat U ons só liefgehad het dat U vir Jesus aan ons as geskenk gegee het. Daardeur het U agteroor gebuig om ons volmaak te red. Die hele wêreld se Kersfeesliggies is te min om ons vreugde te verwoord oor dit wat U gedoen het. Werk diep in ons deur U Gees want ons staan beskaamd oor onsself, wanneer ons onsself spieël in U gesindheid. Ons wil ons lewe opreg weer aan U oorgee. Ons wil ons harte aan U oorgee uit dankbaarheid. Gee dat ons hierdie Christusgety sal vier, nie soos die wêreld voorskryf nie, maar vanuit die Lig wat ons van U Woord ontvang het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page