top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (6) – DIE SEUN VAN DIE MENS


Joh 3:14-15 – “Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”


Vergelyk ook Num 21:9 – “Moses het toe ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit. As iemand (Israeliete) wat deur ‘n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.”


Nikodemus verdwyn nou eintlik heeltemal van die toneel en dit word ‘n monoloog wanneer Jesus praat sodat Nikodemus en alle gelowiges kan luister. Die punt waar alles verander, waar die hemel en die aarde bymekaar gekom het, is juis by die kruis. En Jesus was daartoe in staat om hemelse dinge bekend te maak, want dit is waar Hy as Prins vandaan gekom het om volkome mens te word. As Middelaar tussen God en mens, is “die Seun van die mens” weer aan die woord om aan die mens die hemelse heerlikheid bekend te maak.


Vir Johannes is die kruis die roemryke plek van oorwinning, nie die diepte van lyding nie. Om God se heilsplan te verduidelik haal Jesus weer uit die Ou Testament aan en pas dit op Homself toe. Hy verwys na die redding van Israel toe hulle deur giftige slange gepik is. Elkeen wat na die “verhoogde” koperslang op ‘n paal net gekyk het, het bly leef. Moses moes die koperslang ”oprig” sodat dit goed sigbaar was, net so sou Jesus “goed sigbaar” word of “verhoog” word in heerlikheid met Sy kruisiging, opstanding en hemelvaart. Die vrug daarvan is dat “elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.”


Vir die eerste keer gebruik Johannes die term “ewige lewe”. Dit begin op daardie oomblik wanneer iemand in Jesus glo. Dit is dus ’n nuwe hoedanigheid van lewe wat reeds in die lewe op aarde begin uitloop op die lewe in heerlikheid hierna. Die sleutel tot dáárdie lewe is alleenlik die geloof in Jesus Christus, die Seun van God wat ook die Seun van die mens is: Hy wat gekruisig word en uit die dood opgewek word. Dit word nie deur menslike prestasie verkry nie, dit is ’n gawe van God uit genade.


Ironies moes koning Hiskia in die tyd toe hy oor Jerusalem geregeer het, dieselfde koperslang wat Moses gemaak het verwoes. Die Israeliete het die koperslang met offers vereer en dit selfs ‘n naam gegee: Negustan (2 Kon 18:4). In Moses se tyd was dit nie die koperslang wat lewe gegee het nie. Dit was net ‘n simbool om hul afhanklikheid tot God te rig.


Wanneer ons gedagtes en verlange in opregte geloof na Jesus aan die kruis kyk, ontvang ons die ewige lewe. En die ewige lewe en aardse lewe verskil in kwaliteit, dit beklemtoon dat jy nie aan aardse beperkings gebonde is nie. Dit is die lewe wat ‘n mens kry nadat God jou die geboorte van Bo gegee het.


As ons boontoe kyk na die lewende Here, beteken dit ‘n lewensveranderende ervaring! Alles word nuut, nie net party dinge nie, álles. Nuwe gedagtes, nuwe gesindhede, nuwe waardes want ons het ‘n nuwe hart, ‘n nuwe brein wat anders dink en ons gevoelens en verhoudings word deur die Heilige Gees gelei. Jesus verseker dit wanneer “iemand opnuut gebore word”(Joh 3:3).


“Jesus het ons sonde opgelig en dit op Homself geplaas. Met dié swaar en ondraaglike las het Hy aan die kruis gaan hang” (Andries Odendaal).


Gebed: Hemelse Here, ek ken my swakhede, my versoekinge – ja, ek gee dit selfs name – en al wat ek moet doen is om op te kyk na U toe. Dit is daar waar ek opnuut in hierdie Kerstyd die hoop, vrede, vreugde en liefde wat met U geboorte aangekondig is, kan ervaar – ‘n ervaring wat hierdie wêreld nie kan bied nie. Dit is daar waar ek die koninkryk van God sal sien, die plek van ewigheidswaardes! Dankie Here! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page