top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (5) – WEDERGEBOORTE (3)


Joh 3:9-13 – “Nikodemus vra Hom toe: ‘Maar hoe is dit moontlik?’ En Jesus antwoord hom: ‘Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel? Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.”


Vergelyk ook Eseg 36:27 – “Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.”


Gewoonlik was Jesus omring van gewone mense op straat maar nou, in die nag, besoek een van die aristokrate van Jerusalem Hom. Jesus het probeer om aan Nikodemus die geestelike geboorte te verduidelik maar hy bly in verwondering. Hy wil meer inligting hê. Jesus antwoord hom met die ironiese opmerking dat hy tog “die bekende leraar van Israel” is en dus as kenner van die Skrifte moes geweet het van dié dinge waarvan Jesus praat. Nikodemus, die bekende leermeester moes tog begrip gehad het vir die geboorte uit die Gees as voorwaarde vir toegang tot die koninkryk van God. Esegiël, die Ou Testamentiese profeet, het lank terug reeds voorspel dat God op ‘n ander, nuwe manier gaan kom werk (Eseg 36:27).


Vir die derde keer antwoord Jesus hom met ‘n plegtige ”dit verseker Ek jou” en daarmee wil Jesus die volstrekte betroubaarheid van sy getuienis bevestig. Die Seun wat gekom het om die Vader bekend te maak (Joh 1:18), “weet” omdat Hy goddelike kennis besit, en Hy het by die Vader “gesien” wat Hy moet verkondig. Nikodemus kon nie eers verstaan oor die werking van die Gees wat met die waai van die wind vergelyk kan word nie – “aardse dinge” wat op aarde gebeur en vir die mens waarneembaar is – hoe gaan hy die wonders van die ewige lewe en wat God alles deur Sy Gees vir Sy kinders sal doen, verstaan. As jy nie basies glo dat God jou lewe verander het deur Jesus Christus van die kruis nie, hoe sal jy dan kan glo wat God nog alles vir jou ná die kruis sal doen.


Iemand het eendag vir ‘n Christen sondaar gevra of hy werklik glo aan “die Man wat water in wyn verander het maar Homself nie kon red van die kruis af nie?” Sy antwoord: “Ek weet nie of Hy werklik water in wyn verander het nie, maar in my huis het Hy brandewyn in meubels verander! God moet in jou lewe ingryp en jou verander om Sy kind te wees en daarom is dit nodig om God te kén om geestelik sensitief te wees vir die verstaan van die “geboorte van Bo” – dit kan net gebeur wanneer jy deur die Gees opnuut gebore word.


Vergelykend is daar byvoorbeeld min van ons wat presies weet hoe elektrisiteit werk, maar ons erken dat dit bestaan en ons gebrek aan kennis daarvan laat ons nie daarvan afsien of die voordele daarvan geniet nie. Ons mag wel nie verstaan hoe die Gees in mense se lewens werk nie, maar dit is daar vir almal om waar te neem! Niemand kan ‘n geloof verontagsaam wat die goeie uit ‘n slegte mens verander nie. Eintlik is dit ‘n misterie, maar nie ‘n misterie van intelektuele waardering nie, ‘n misterie van verlossing deur genade!


“As ‘n mens sonder die Heilige Gees ‘n Christelike lewe probeer lei, kan jy netsowel sonder ore probeer hoor of sonder longe probeer asemhaal” (Dwight Moody).


Gebed: O Heilige Gees, dankie dat U die uitdeler is van die liefde van Vader en Seun. Dankie dat U ons in genade lei om ons droewige aardse bestaan op ons Vader se skouers kan laat rus. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page