top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


JESUS EN NIKODEMUS (3) – WEDERGEBOORTE (1)


Joh 3:5-8 – “Jesus het geantwoord: ‘Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”


Vergelyk ook 2 Kor 5:17-18 – “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.”


Omdat Nikodemus aardsgebonde is in sy denke, verstaan hy Jesus se woorde in die letterlike sin, hy spreek sy verbasing uit en verlang ’n verduideliking van Jesus se raaiselagtige uitspraak. Wedergeboorte beteken nié dat ons fisies weer gebore moet word nie, maar dat ons geestelik weer gebore moet word. Dit is wanneer God die tweede keer ingryp in die lewe van die mens. Net soos ons natuurlike geboorte is die wedergeboorte ook die werk van God. Ja, God maak dit deur sy Heilige Gees moontlik.


Maar die vraag is: Hoe gebeur hierdie geestelike wedergeboorte? Hoe kan iemand wat dood in die graf van sy sonde lê (Ef 2:1), op ‘n dag besluit om homself te laat lewe? Jesus het aan Nikodemus verduidelik wat Hy bedoel. Om weergebore te wees, is om gebore te wees uit “water en die Gees”. Wat beteken dit? Jesus bedoel nie dat as jy nie fisies uit die vrugwater gebore word, en geestelik deur die Heilige Gees nie, kan jy nie die Koninkryk van God ingaan nie. Dis mos voor die hand liggend dat jy gebore moet wees, voordat jy weergebore kan wees.


Die geboorte uit “water en die Gees” is nie twee aksies nie, maar een. Die water is simbolies van die Heilige Gees se reinigingswerk in ons harte. Om in God se teenwoordigheid in te kom moet die Heilige Gees jou eers in die ‘bad van wedergeboorte’ was. Die Skrif sê immers dat God “ons gered [het] deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” (Tit 3:5). Ons moet in geloof reageer, maar het nie ‘n vinger in hierdie pasty nie. Wedergeboorte is ‘n soewereine werk van God se Gees. So min soos wat ‘n baba besluit om gebore te word, so min besluit ‘n sondaar om weer gebore te word.


Die Gees se werk in wedergeboorte is soos die gewaai van die wind - Jy kan nie die wind beheer of manipuleer nie – dit waai waar dit wil en sal nie vir jou luister nie. Jy kan dit hoor en die effek daarvan sien, maar die wind self is onsigbaar. Jy weet nie waar dit ‘n uur gelede was en waarheen dit oppad is nie. En so is dit met wedergeboorte - jy kan die effek van die Gees se werk in mense se veranderde lewens sien, maar Hy self is so onsigbaar soos die wind. Hy is soewerein en sal nie toelaat dat iemand Hom manipuleer nie. Hy red wie Hy wil, wanneer Hy wil, waar Hy wil, en soos Hy wil. As die Heilige Gees besluit om iemand te wederbaar, kan mense en duiwels hulle bes probeer, niemand sal Hom keer nie.


Glo in die wedergeboorte soos wat Jesus dit verduidelik – dit is die soewereine werk van die Heilige Gees. Niemand kan van iemand ‘n Christen maak nie. Niemand kan met 24/7 gebed, ‘n groot wit tent, en ‘altar calls’ ‘n herlewing skep nie – die Heilige Gees is die verskil! Ons hoef nie antwoorde op alles te hê of alles deeglik te verstaan voordat die Gees met ons werk nie. Ons moet onsself in afhanklikheid en geloof tot beskikking van die Heilige Gees stel.


“Ek moenie probeer om meer van die Gees te kry nie; die Gees moet meer van my kry” (Willem Nicol).


Gebed: Here, in U wêreld word my verstand klein en droog my redenasies op. Dankie tog dat dit nie beteken dat U dan nie werk nie, U werk ver buite my verstand en verklarings. As sondaar kan ek nie my eie hart verander nie, net U kan maak dat ek ‘n nuwe skepping is. Daarom maak ek nie staat op my slim redenasies nie, maar vra ek dat U my oë moet oopmaak sodat ek die lig van die evangelie kan sien en verlig my hart met die kennis van die heerlikheid van U (2 Kor 4:4, 6). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page