top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE REINIGING VAN DIE TEMPEL (3) – DIE NUWE TEMPEL


Joh 2:18-22 – “Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: ‘Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?’ Jesus het hulle geantwoord: ‘Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.’ Die Jode sê toe: ‘Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?’ Met ‘hierdie tempel’ het Hy egter sy liggaam bedoel. Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.”


Vergelyk ook Mark 14:58 – “Ons het Hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel , wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae ‘n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.”


Die tempelreiniging het vir die Jóde, egter ’n ander uitwerking. Hulle kom in verset en eis ’n bewys van Jesus se reg en gesag om op te tree soos Hy pas gedoen het. Hy moet tot hulle bevrediging bewys lewer dat God deur Hom werk, en hulle behou hulle die reg voor om self te oordeel of die teken genoegsaam is. Hulle wil dus hulle eie gesag laat geld, en verhef hulle bo Jesus. Hulle volhard in hulle ongeloof. Maar Jesus weier om ’n wonderteken te verrig ten einde sy teenstanders te bevredig of Sy gesag te bewys.


Hoewel Jesus weier om aan die ongelowige Jode ’n teken te gee, verstoot Hy hulle nie. Hy spreek hulle aan met woorde wat ’n bedekte betekenis het en wat hulle sowel as die dissipels in daardie stadium nie reg verstaan nie. Die ander Evangelies vertel dat Jesus die Jode verwys het na die teken van Jona (Matt 12:36–40). Johannes klee dieselfde antwoord anders in deurdat Jesus hier praat van die tempel wat afgebreek word en deur Hom in drie dae weer opgerig sal word.


Dit is ’n heenwysing na die toekomstige optrede van dieselfde Jode wanneer hulle Jesus uitlewer om gekruisig te word. Hulle soek nou ’n teken, maar die dag kom wanneer hulle self sal meewerk aan die oprigting van daardie afdoende teken dat Jesus die Christus is, naamlik sy sterwe waarop die opstanding sal volg. Hierdie woorde van Jesus is deur die Jode in letterlike betekenis as ’n bedreiging van die tempel verstaan, en in verdraaide vorm voer hulle dit later aan as beskuldiging teen Hom op grond waarvan Hy moet sterwe (Mark 14:58). Jesus se bedoeling was dat in sy liggaam die vervulling gegee word van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe sou die offerdiens oorbodig maak, en sy opstanding sou die tempel self eweneens oorbodig maak.


Wat die Jode ook al doen in hulle strewe om Jesus uit die weg te ruim, sal hulle nie kan slaag nie. Jesus bly die oorwinnaar – Hy sal binne drie dae opgewek word uit die dood. Daarmee verrys die nuwe tempel, die geestelike tempel waarvan die voorhangsel geskeur is sodat daar vir die sondaar vrye toegang is na God toe (Heb. 10:19). Die dissipels het wel iets begryp van die woorde van Jesus (v. 17) maar nie alles nie. Eers ná Sy opstanding word Sy hele lewe en leer in die regte perspektief gestel en vanuit die opstandingsgebeurtenis vertolk – “U gee my nie oor aan die dood nie. U laat U troue dienaar nie in die graf kom nie” (Ps 16:10). Daarom word Sy woorde ten opsigte van die afbreek van die tempel en ook Sy optrede by die tempelreiniging verstaan as teken dat die ou bedeling plek moet maak vir die nuwe.


Dus, oral waar Jesus is, is ons tempel nou. Of ons in ‘n eensame kamer of besige pad is, die tempel van God is net so ver van ons af as wat Jesus van ons af is. Jesus wil hê dat vanuit die tempel (kerk) gefokus moet word op ‘n nuwe lewenstyl en lewenswyse – ‘n plek van aanbidding en waar God se teenwoordigheid beleef word. ‘n Plek waar ons versoenend teenoor ander optree, gewillig is om na die suiwer woordverkondiging te luister en te gaan doen wat die Gees ons vra.


Die vraag is egter: Hoe vergelyk ons geestelike lewe met die “tempel”? Soek ons ook steeds na ‘n “teken” om te bewys dat Jesus die Messias is of is die kruis ‘n genoegsame teken? Watter kamers van ons huis moet deur Jesus gereinig word – Studeerkamer, die plek waar ek lees en na dinge kyk; Eetkamer waar ek my begeertes en aptyt uitleef; Werkwinkel waar ek al my vaardighede vir myself hou; TV kamer waar ek ontspan, flieks en sport kyk; Gesinskamer waar my gesinslede, vriende en familie bymekaar kom of dalk die hangkaste waar ek “alles ophang”?


“Christene se lewe is die wêreld se Bybel – en sommige van dié “uitgawes” het hersiening nodig” (Dwight Moody).


Gebed: Here, in onsself het ons niks om aan ander te bied nie en is ons “tempel” ook vol onnodige dinge wat gereinig moet word. Dankie dat U ons gereinig het deur U bloed en daardeur ons name geplaas het op die uitnodiginskaartjies na U hemelse fees toe. Dankie dat U kruis vir ons die enigste teken is dat U ons uit elke donker hoekie uithaal. Ek het niks om in te ruil vir hierdie genade nie, net maar “ek is ‘n sondaar, help my!” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page