top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE BRUILOF IN KANA (1)


Joh 2:1-5 – “Op die derde dag was daar ‘n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. Jesus en Sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: ‘Hulle het nie meer wyn nie.’ Maar Hy sê vir haar: ‘Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie. Sy moeder sê toe vir die kelners: ‘Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.’


Vergelyk ook Fil 4:19 – “My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens Sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.”


Volgens Joodse gebruik was die huwelik van ‘n jongmeisie op ‘n Woensdag. Jesus se moeder, Maria, was waarskynlik familie van die bruidegom en het dus gehelp met die bruilofsfees wat tot ‘n week kon duur. In ooreenstemming met die reëls van gasvryheid word almal van die dorpie genooi, ook Jesus en sy geselskap.


Dit was die verantwoordelikheid van die bruidegom en sy familie om die wyn vir die fees te voorsien. Vir hulle was dit ’n saak van eer dat die wyn goed en volop moes wees. Dit is begryplik dat ’n tekort nie net ’n groot verleentheid kan skep nie, maar ook oneer op die familie kan bring. Trouens, volgens die Joodse reg kon die gaste in so ’n geval selfs ’n eis vir skadevergoeding teen die familie instel.


By so ’n daelange fees sou die gaste eerder as die bruidegom agterkom dat die wyn begin opraak. Maria merk dit op en omdat sy gemoeid was met die reëlings, was dit vir haar ook ‘n verleentheid en kom deel sy dit mee aan haar Seun. Sy het geweet dat Hy meer was as ’n gewone mens. Reeds voor Sy bonatuurlike geboorte is gesê dat Hy die Seun van God sou wees (Luk 1:35). Maria het geglo dat haar Seun sou kon help om die bruidegom uit sy verleentheid en deels haar verleentheid, kon red. Die opmerking van Maria aan Jesus spruit nie uit die verwagting dat Hy ’n wonderwerk sou doen nie, maar uit die begeerte dat Hy op die een of ander manier hulp moet verleen.


Jesus se antwoord op die besorgde vraag van sy moeder klink hard in ons ore en vreemd, selfs oneerbiedig. Ons moet die woorde van Jesus egter verstaan as ’n getuienis omtrent wie Hy werklik is en wat Sy roeping in die wêreld is. Hy sou buitendien nie oneerbiedig teenoor haar wees nie. Dat Jesus nie bedoel het om sy moeder streng tereg te wys nie, blyk uit sy woorde dat Sy “tyd nog nie gekom het nie”. Hy het gekom om ’n program uit te voer soos deur die Vader bepaal. Daardie program mag Hy nie vooruitloop nie, maar hy moet op die regte uur optree. In hierdie uitdrukking is ’n bewys daarvan dat Jesus self Sy beslissinge neem en dit doen in gehoorsaamheid aan die wil van die Vader. Jesus het nie aarde toe gekom om gewildheidskompetisies te wen nie, maar om God se koninkryk bekend te maak. Maria begryp dit en laat die saak dus volkome in Jesus se hande.


Maria glo vas dat Jesus op sy eie tyd iets sal doen om die bruidegom en sy familie verleentheid te spaar. Aan die kelners, vir wie Jesus ’n vreemdeling was, gee Maria die opdrag om Jesus se instruksies uit te voer. Haar optrede getuig van volle vertroue dat Hy iets sou doen om te help. En daarin word sy nie beskaam nie.


Daar is ‘n gesegde dat “elke mens ‘n droom en idee is van God”. Daarom behoort ons nie oor ons eie wense en behoeftes te bekommer nie maar dit aan God oorlaat om ons doel in hierdie wêreld te bevestig. By tye is ons behoeftes bokant ons eie vermoëns. Meestal verstaan ons nie altyd wat God vir ons wil sê nie en wonder ons oor Sy optrede. Dit is in sulke tye wanneer ons nie angstig of benoud moet word nie of pessimisties moed opgee nie. Die geheim is en bly egter om soos Maria te glo en te vertrou dat Jesus op sy eie tyd iets daaraan sal doen. Hy sal uit Sy onbeperkte voorraadskuur voorsien net soos Hy kan.


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is” (Paul Tillich).


Gebed: Dankie Here vir U liefdevolle hart. Dankie dat ons al ons hulp by U kan soek. Al sou die vyeboom nie meer bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, weet ons dat U op U tyd, in ons behoeftes sal voorsien volgens U wil. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page