top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 14 : Lewensomstandighede (2)


Jak 5:13 – “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing....”


Vergelyk ook 1 Tess 5:16-18 – “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”


In Sondag 45 van ons Kategismus bely ons dat gebed vir ons Christene nodig is omdat dit die vernaamste deel van ons dankbaarheid is wat God van ons eis en omdat God Sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge, sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.


Die fokus van elkeen van ons se lewe behoort na God gekeer te wees omdat ons van Hom afhanklik is, en ons doen dit in gemeenskap met ander gelowiges. Indien dit dan gebeur dat ons moeilike omstandighede in ons lewe ervaar, is daar net een antwoord sê Jakobus: BID! Bid met oorgawe, ernstig, gelowig en volhardend, nie net wanneer ons “swaar kry” nie maar selfs wanneer ons “opgeruimd” is ook.


Ons stem almal saam dat ʼn mens dan moet bid, maar doen ons dit? Is gebed regtig ons eerste reaksie op lyding? Nee, dit is nie altyd ons spontane reaksie nie. Getrou aan ons ou menslike geaardheid is ons eerste natuurlike reaksie om te sug en te kla. Of ons vra vir God: “Hoekom gebeur dit nou juis met my?” Jakobus staan al hierdie reaksies teë en sê: Bid!


Wanneer daar in die huis tussen man en vrou of tussen ouers en kinders konflik ontstaan, bid dan vir wysheid en kalmte. Bid dat jyself ‘n voorbeeld van Godvresendheid sal wees vir jou gesin. Smeek dat die Heilige Gees Sy hand stewig op julle humeure sal hou. Vra dat julle as huisgesin hierdie omstandigheid sal gebruik as‘n geleentheid om in geloof te groei.


Wanneer ons by die werk of waar ook al probleme ondervind, maak ons dan soos Nehemia en bid stil tot die Here? Toe Nehemia met die ongelowige koning oor die herbou van Jerusalem se muur moes praat, het hy dit nie gewaag om sy mond oop te maak voordat hy tot God gebid het nie – “Hy het ‘n skietgebed opgestuur na die God van die hemel en toe vir die koning gesê: ‘As die koning dit goedvind....” (Neh 2:4b). ‘n Skietgebed was miskien iets soos “Here, help asseblief.”


Laat ons maar eerlik vir mekaar sê hoe meeste van ons gewoonlik ons probleme hanteer. Ons maak eers al ons planne en doen alles wat ons kan. Wanneer ons uiteindelik sien dat ons planne nie wil uitwerk soos ons gehoop het nie, bid ons tot die Here. Ons maak Hom die laaste uitweg van al ons planne. Die Here beskik immers die moeilike omstandighede in ons lewens sodat ons altyd van Hom afhanklik sal wees. Hy wil hê dat ons Hom eerste moet vra voordat ons enigiets doen, Hom ken in al ons weë.


As ons dink dat dit makliker is om te sing wanneer jy opgeruimd is as om te bid wanneer jy ly, moet ons weer mooi dink. Ons ou natuurlike mens het hier ook ‘n manier van doen wat negatief op ons geloof inwerk – van nature is ons geneig om van die Here te vergeet wanneer dit met ons goed gaan.


Gebed gaan nie noodwendig die pyne van die omstandighede wegneem nie, maar dit gaan verseker my uitkyk en verstaan van die omstandighede verander. Gebed is dus ‘n versoek tot God dat Hy my sal instem sodat ek in pas met Sy wil kan kom en so lewe, en nie Hom in pas te bring met mý wil nie.


“Eers het ek God altyd gevra om my te help. Toe het ek begin vra of ek Hom kan help. Uiteindelik het ek besef dat gebed net is om te sê: ‘Hier is ek, Here. Doen U werk deur my.” (James H. Taylor).


Gebed: Here, maak ons biddende mense sodat die fokus van ons hele lewe na U toe gekeer is en ons van U afhanklik bly en is. Dankie dat U altyd by ons is, U laat ons nooit alleen nie, in goeie en in slegte tye. Laat ons die vreugde dra van U opstanding en in liefde kan dien, mekaar vergewe en aanvaar. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page