top of page

E-Kerk Gedagte vir Vandag


Wie is jy werklik? Wil jy graag uitvind wie jy werklik is?

’n Mens kan Efesiërs 2 vanuit verskillende gesigshoeke lees en verstaan. Die gesigshoek wat ek nou verkies, is om die volgende vraag te beantwoord: “Wie is ek werklik?”

Efesiërs 2 beskrywe twee tipe mense, maar ook vertel dit hoe mense verander kan word... indien jy sou belangstel!


Efes. 2: 1-10

“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”


1. In Efes. 2: 1-3 ontmoet ons die mens wat leef soos hy/sy self besluit en wil leef. Hierdie mens word met die volgende woorde beskrywe: “1 … Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2 ... Julle het julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, 3 ... Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het.

Hierdie mens is vanaf sy/haar geboorte net soos ’n dooie mens, dood vir God en Sy wil. Hierdie mens is dood ongeag ’n goeie opvoeding, akademiese rekord of met ’n goed ontwikkelde persoonlikheid. Ten diepste wil hierdie mens ’n lewe leef wat vir hom/haar die moeite werd is. Hierdie "dooie mens" leef soos hy/sy wil, wil 'n "free spirit person" wees. Hierdie mens hou nie van orde en wil deur niemand voorgeskryf word nie! Wat eintlik gebeur, al besef die persoon dit nie: as "dooie mens" laat hy/sy hul laat lei deur die vors van onsigbare magte, die Duiwel self. Hierdie mens mag selfs die bestaan van die Duiwel ontken, maar sy/haar opinies kanselleer hoegenaamd glad nie die realiteit van Satan en sy demoniese beheersing nie. Die feit van die saak is dat hierdie “dooie mense” hulle selfs onbewustelik deur Satan laat lei.

Die gevolg? “Vanweë hulle sondige natuur word “dooie mense” deur God gestraf!”

Wil jy weet of jy ’n “dooie mens” is of nie?

Dis maklik om dit te bepaal. Beantwoord net die volgende vragie met ’n “ja” of ’n “nee”. Leef jy net soos jy wil? Jou “ja”-antwoord sê nie net wie jy regtig is nie, maar ook wat die gevolg van ’n sodanige leefstyl is. ONTHOU: ’n lewe sonder hoop en sonder God is ’n weggooi lewe. Is dit wat jy graag wil bereik? Ek glo nie dat jy dit regtig wil wees nie!


2. Ontmoet nou die tweede soort mens. Dis die mens wat leef soos God wil. Efesiërs 2:4-22.

God wil hê dat ek en jy in Jesus Christus moet glo as ons Verlosser en Here. Hoe lyk hierdie mens? Hierdie mens: is nou God se handewerk. Wanneer God iets gemaak het, het Hy daarna gekyk met ’n selftevredenheid: “Dis baie goed gemaak.” Sy handewerk is elke keer God se pronkstuk. Ja, hierdie mens het die potensiaal om te leef waartoe God hom/ haar geskep het ... tot Sy vreugde! Hierdie mens is God se “pronkstuk” om sy/haar unieke Godgegewe skeppingsdoel volledig uit te leef. “Pronkstukke” is nie sondelose en volmaakte mense nie.

Jy is God se pronkstuk wie se sondes vergewe is. God is nie meer vir jou kwaad nie. Hy sal jou nog dissiplineer, maar nie meer veroordeel nie. Daar is geen veroordeling vir elkeen wat in Christus is nie! (Romeine 8:1) het naby God gekom en leef onafgebroke in Sy teenwoordigheid. Jy kan nou regop voor God leef, want jy is Sy kind en Hy is jou Vader!

Jy ka nook die volgende dinge sê van so ‘n mens as ons kyk na Efesiërs.

het Sy vrede ontvang en kan nou in harmonie met God, met ander mense en met hom-/haarself.

het vrye toegang tot die Vader

is medeburgers in God se Koninkryk

is deel van God se huisgesin

is die woonplek van God en Sy Heilige Gees.

Onthou:

‘n Dooie mens” kan homself nie weer lewendig maak nie. Al doen hy/sy ook watter goeie dade ook. Al sou hy/sy goeie christelike gebruike navolg soos om kerk toe te gaan. Niks hiervan kan hom/haar van die “doodsheid” verlos nie. Net God kan ’n dooie mens weer lewendig maak. Hy wil dit doen, want Hy het al die dooie mense innig lief. Omdat geen dooie mens hom-/haarself lewend kan maak nie, het God dit in en deur Jesus Christus kom doen.

Die wonder is dat dit alles net deur God se genade aan ons gebeur. Ons verdien daar niks van nie.


Gebed: “Heilige Gees, help my om myself te ken as U pronkstuk en om dan tot U verheerliking soos U pronkstuk te leef. In Jesus naam. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page