top of page

E Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 11 : Uitbuiting (3)


Jak 5:1a – “En nou, julle rykaards .....” VV 4-6 – “Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom. Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is. Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie.”


Vergelyk ook Deut 24:14a en 15 – “Jy mag nie ‘n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie....; Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees.”


Die inhalige en oordadige leefstyl van die rykaards word vervolgens beskryf. Hulle pleeg ‘n onreg deur die werkers nie hul regmatige loon te betaal nie of om dit onregmatig terug te hou. Omdat hulle die hef in die hande gehad het, kon hulle maak net soos hulle wil. Terwyl hulle self in gemak en weelde leef, val die sugte van die werkers op die dowe ore van die rykaards. Maar “die geroep en gebede van dié wat geoes het” weerklink tot in die hemel waar die “Here die Almagtige” dit hoor en GAAN VERHOOR!!


Hier op aarde pleeg die rykaards, (verteenwoordig ‘n bepaalde kategorie rykes en veralgemeen nie), absoluut ‘n gruwelike onreg deur swaarkry, ellende en armoede en selfs mense te “veroordeel en te vermoor” terwyl hulle rustig verby die leed verbyleef. Die vraag wat tot vandag toe geld vir gelowiges is: “As iemand my verontreg, gaan die Here dan niks daaraan doen nie?” Dit lyk of die verontregting maar net voortduur en dit blyk of die uitbuiters wegkom daarmee. Jakobus openbaar dat die Here ag gee op dinge wat verkeerd gedoen word en wel luister na die “geskreeu en roep.” Die “Here die Almagtige” toon daarom aan dat hulle nou tot in die hel (“slagdag”), hulle teen Hom vasgeloop het.


Mag ons dan nie ryk wees nie? Mag ons nie “skatte” bymekaar maak nie? God stel aardse goed tot ons beskikking om te kan geniet, ook in belang van Sy koninkryk. Dit is egter wanneer aardse skatte ons beheersugtig, hebsugtig en grypsugtig maak, dat dit ‘n probleem word. Die fokus skuif na aardse goed en God se koninkryk word uit die oog verloor.


Jakobus het nie ‘n oplossing vir hierdie probleem van uitbuiting nie. Wat hy egter poog om te doen, is om ‘n fyngevoeligheid onder gemeentelede te skep sodat hulle nie blindelings aandadig raak aan lyding van armes nie, maar as ‘n kerk optree om by dade wat pas by die evangelie wat hulle hoor en bely, betrokke te raak – om hul geloof in dade te omskep (2:17). Elke mens moet eendag by die “slagdag” verantwoording doen oor sy aardse lewensbeskouinge en tekortkominge. Elkeen moet dus kyk hoe aardse besittings in sy lewe tot uitdrukking kom. As rykdom en aardse skatte ál is om voor te lewe in hierdie wêreld, is daar niks oor vir die volgende lewe nie – die lewe wat eintlik saak maak.


“As jy in opstand kom of as dit ‘seer’ maak wanneer daar oor geld gepreek word, het jy die Groot Geneesheer nodig om te verduidelik waar die geld vandaan kom want dit behoort nie daar seer te wees nie” (Hyatt Moore).


Terloops, “Jesus het nogal baie oor geld en besittings gepraat. Sestien van die 38 gelykenisse handel daaroor. In die Bybel is daar 500 verse oor gebed maar meer as 2000 wat handel oor geld en besittings” (Howard Dayton)


Gebed: Here, wat help dit ons om die hele wêreld as wins te verkry en ons lewe te verloor? (Mark 8:36). Ons kan met geld feitlik alles koop, maar nie die hemel nie. Dankie dat U ‘n God is wat omgee en vir ons sorg. Dankie dat U vir ons álles gee om te kan geniet. Weerhou ons daarvan om nie hooghartig te wees oor ons besittings nie en ons hoop te plaas op die onsekerheid daarvan nie. Gee ons insig om dit aan te wend soos U wil. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page