top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 6 – Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder! (4)

Markus 10:17-30 – “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: ‘Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”


Vergelyk ook Spr 11:28 – “Wie op sy rykdom staatmaak, kom tot ‘n val, wie reg doen floreer soos groen blare.”


Hierdie man wat by Jesus op sy knieë neerval, blyk om ‘n heel aangename man te wees. Hy was nog jonk en reeds baie ryk. Hy was ook ‘n godsdienstige mens – hy’t nie gesteel nie, nie moord gepleeg nie, nie gelieg nie en sy medemense nie te na gekom nie – ‘n goeie mens! Hy het selfs besondere respek vir Jesus gehad deur Hom met ’n buitengewone titel aan te spreek: “Goeie Leermeester…” en op sy knieë voor Hom gaan staan. Hy was gretig om met Jesus te praat. Hy het “aangehardloop” gekom om antwoorde by Hom te kry – ‘n opregte soeker en hy soek by die regte adres!


Maar ..... wat het regtig in sy hart aangegaan? Was hy geestelik ingestel? Wat was diep in hierdie oulike, aangename, goeie, godsdienstige mens se binneste weggesteek? Jesus toets hom – “gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes.....” – en dan ontbloot Jesus sy afgodery en selfsug! Hy was liewer vir sy rykdom as vir God – dit is mos afgodery! Hy sou eerder aan sy besittings vasklou as om die unieke kans, wat maar net een keer in hierdie wêreld se geskiedenis sou voorkom – om hier op aarde saam met die Messias te kan rondgaan – aan te gryp.


In sy binneste wou hy eerder ’n dissipel van Mammon bly as om ’n dissipel van Jesus te word. Toe hierdie oënskynlike wetsonderhouer, oopgesny word, toe blyk dit dat hy sommer die eerste gebod – “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” – al oortree. Dit is egter nie net in die liefde tot God wat hierdie jongman die toets dop nie, maar ook in sy liefde vir sy medemense. Hy was selfsugtig. Hy sou nie sy bates verkoop om vir armes te sorg nie – nooit gesien nie!


Jesus “het hom liefgekry” maar ontmasker hom terselfdertyd. Hy sny deur al die maskers van aangenaamheid, ordentlikheid, eerbaarheid en godsdienstigheid totdat Hy hierdie hart oopgesny het waar daar nog kwaad lê en prut. Daar was baie dinge in hierdie man se lewe reg, maar op een punt het hy ’n probleem gehad. Op sy pad om God te vind en om vrede met God te vind, was daar een groot struikelblok: “Net een ding kom jy kort.” En die Here wat weet wat die een ding is waar hierdie mens geestelik vashaak, ontmasker hom deur hom juis op hierdie punt voor ’n keuse te stel.


Hoe goed ken die Here ons as mense nie! Dis so baie kere in ons as mense – goeie, aangename, ordentlike kerkmense – se lewens so – dat daar één ding is waar ons geestelik vashaak; één sonde wat ons net nie kan los; één punt in ons lewe waar ons dit net nie regkry om die Here te gehoorsaam nie. Soos die Here met hierdie jongman gedoen het, doen Hy baie kere vandag nog deur dit so te beskik dat mense juis by hierdie punt in hulle lewe voor ’n keuse gestel word. Dit is dan dat ons moet wys wat leef regtig in ons binneste? Het God regtig al in my lewe die nommer ÉÉN geword? Is Sy woord regtig die hoogste norm in my lewe?


Die tragiek van hierdie storie is dat dit wat regtig in hierdie jongman se binneste was, gemaak het dat hy “bedruk van Jesus af weggegaan het” (v 22). Hoe kan ons keer dat iets soortgelyks nie met ons ook gebeur nie? Dit was ook die reaksie van die dissipels – “hulle was verbaas en ontsteld” (vv 24, 26). Die antwoord is by Jesus: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik” (v 27). As dit van wat mense kan doen sou afhang of ons by God uitkom, sou niemand van ons dit gemaak het nie.


Vir ’n mens om by God uit te kom, is daar niks minder nodig nie as ’n direkte ingryping van God, ’n Lam van God wat vir ons skuld en boosheid betaal het en ’n Gees van God wat daar in ons diepste binneste kan inkom en die afgodery en selfsug kan doodmaak. Dis net die wonder van God se liefdevolle ingryping deur Jesus Christus en deur die Heilige Gees wat ’n mens kan red, wat ons kan bring op die pad van bekering, ook in “daardie een ding wat jy kortkom….“


“Ek is nie gebore om vry te wees nie, maar om te aanbid en te gehoorsaam” (C.S. Lewis)


Gebed: Here, daar is soveel kere waar twyfel ons ook aan bande lê. Twyfel of ons regtig ‘n band met U het en of ons nie maar net kerk speel nie. Twyfel of ons nie dalk net Christen-wees na te boots nie. Dankie Here dat U egter ons tipiese mensehart oopvlek en ontmasker. Dankie God dat U ingegryp het en Jesus vir ons gegee het om vir ons boosheid te kom betaal. Dankie Jesus dat U ons skuld op U geneem het. Dankie Gees van God dat U in ons diepste binneste kan inkom en die afgodery en selfsug kan doodmaak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page