top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Week 6 – Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder! (3)


Markus 10:17 en 21b – “Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: ‘Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” ...... V 21b – “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!”


Vergelyk ook Matt 6:19 – “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”


Ironies, Jesus “kom uit die huis uit om verder te gaan” na Jerusalem vir Sy kruisdood, terwyl die ryk jongman wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry! Hy was ‘n toegewyde wetstoepasser, maar besef daar is meer nodig om die ewige lewe te verkry as om net die wette van Moses toe te pas. Hy weet daar is meer op die spel as dit wat hy reeds ken en doen. Die gebooie het hy van sy “kinderdae af nagekom” (v 20). Hy wil egter byvoeg op sy lysie van goeie dade, hy wil verseker dat dit volledig is. Hy wil weet wat is nodig vir die volgende stap om die limiet te bereik. Hy vra Jesus vir hierdie “meer” en Jesus het hom “liefgekry”. Met liefde antwoord Jesus hom dat die ewige lewe beteken om jouself te gee. Dit wat hy op aarde bymekaar gemaak het beteken niks.


Die jongman het Jesus gevra wat “hy moet doen” en Jesus gee hom die antwoord: “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Die een ding wat hierdie man kort om by God te wees – “die skat in die hemel” – gaan gebeur wanneer hy alles verkoop wat hy het. Jesus se woorde “volg My” beteken nie om alles te verkoop en agter Hom aan te gaan nie, maar om, soos Hy, magteloos en uitgelewer te wees. Om Hom, ongeag tyd en omstandighede, na te volg waarin Hy ons voorloop.


Die groot fout wat die jongman gemaak het, was dat hy gedink het hy kan met sy eie vernuf en invloed en sy geld, alles regstel en koop. Jesus en die beginsels van Sy koninkryk is egter anders .... en alles wat op ander plekke van hom 'n man van aansien maak, baat hom nou niks! Jesus bied ‘n beter lewenspolis aan. Sy beleggingsmoontlikhede is nie op die aandelebeurs genoteer nie. Sy beleggings veroorsaak nie slapelose nagte, grys hare en maagsere a.g.v. prysskommelinge en aandelemarkte wat in duie stort nie. Jesus se belegging het ewigheidswaarde en dit is onskatbaar.


Jesus het nooit gesê dat die lewe in hierdie wêreld onbelangrik is nie. Om vir die toekoms voorsiening te maak is heeltemal in orde en deel van goeie beplanning. Wat Jesus wel teen waarsku is wanneer inhaligheid en gierigheid en die opgaar van middele uitsluitlik vir persoonlike gewin en sekuriteit is. Ons eie belang mag nooit groter word as God se belang nie. Iemand het eendag gesê dat ‘n rand in die hand meer werd is as ‘n droom in die hart. Wat hy egter vergeet het om by te voeg is dat mens moet waak dat sy geloof in Christus Jesus ook niks meer as ‘n droom in die hart word en sy versameling skatte meer as God word nie. “Dissipelskap is nie so duur soos jy dink nie .... dis duurder!”


Daar is geen permanensie in aardse goedere wat nie gaan hou nie. Dit is dan wanneer mens vrede maak dat jy eintlik het wat jy nodig het. God gee volgens koninkryksperspektief en waarmee hy ons kan vertrou. Bowenal, wanneer ons daarmee vrede gemaak het, dan is daar nie ‘n bekommernis nie “en die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:7).


Jesus hou wag om te keer dat ons tyd, aandelemark, sport, besittings, of wat ookal wat ons aan hierdie wêreld laat kleef, nie verruil vir dít wat ewigheidswaarde het nie – “die skat in die hemel”.


“Christus roep ons, maar Hy dwing ons nie. Hy werk met vrywilligers” (John Donne).


Gebed: Ons Vader in die hemel, daar is so baie van ons wat skuldig staan omdat ons só besig is om aan ons toekomstige beleggings te werk, dat ons nie tyd het vir U nie. Wanneer ons wel ‘n tydjie afknyp is dit buitendien met gedagtes, dat U tydjie ook inmeng in ons tyd, wat ons huidige lewensstandaard beïnvloed. Ons is só besig om ‘n aardse bestaan te maak dat ons vergeet om te lewe! Ons het nie eers tyd om hierdie dagstukkie volledig te lees nie. Ons hoop nie U is ook so haastig soos ons nie. Help Here!!! Skenk ons meer tyd om aan ons hemelse skat te werk. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page