top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Moet nooit tou opgooi nie (1)


Luk 18:1-9 – “Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word. Hy het gesê ......”


Vergelyk ook Jes 40:29 – “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie.”


Het jy al die gevoel gekry dat God nie jou gebede hoor nie? Ondanks al die beloftes van die Here dat Hy wel na ons gebede luister en dit verhoor en ondanks die feit dat die Here sê ons gelowiges se gebede het ʼn kragtige uitwerking, kry ons steeds die gevoel dat ons gebede sommer net woorde in die wind is of woorde “teen die plafon.” As mens kan ons dan so moedeloos word dat jy naderhand vir jouself sê: Ag, dit help nie eers meer om te bid nie. Met hierdie gelykenis wil Jesus ons juis kom leer om nie op te hou bid nie – “ ‘n mens moet altyd aanhou bid sonder om moedeloos te word.”


Jesus begin die gelykenis om die karakter van die “regter in ʼn sekere stad” te skets. Hierdie regter is anders. Hy stel veeleer sy eer daarin dat hy God nie vrees nie en geen mens ontsien nie. Die vrees van die Here, die eerbied en ontsag vir God wat in ʼn ware gelowige se hart leef, was totaal afwesig by hom. En iemand wat geen vrees vir die Skepper het nie, gee net mooi niks vir ander mense om nie. Dit plaas die weduwee in Jesus se storie in ‘n groot dilemma – by hierdie onregverdige mens moes sy gaan pleit dat daar reg in haar saak moet geskied. “ ʼn Tyd lank wou hy niks” aan haar saak doen nie. Al wat gehelp het dat die regter tog na haar saak geluister het en reg aan haar laat geskied het, was omdat sy so aanhoudend was. Net haar aanhoudende gevra het tot die deurbraak gelei.


Wanneer Jesus Sy storie in hierdie gelykenis toepas, spoor Hy ons nog meer aan om aanhoudend, vurig en gelowig te bly bid. In die eerste plek verseker Jesus ons dat God regtig ons gebede sal verhoor deur die onregverdige regter teenoor God te stel – “Jesus sê: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep nie?” (v 6).


Ons kan bevestigend antwoord op Jesus se vraag. Eerstens gaan dit oor wat ons as gelowiges verlang en verwag wanneer ons bid. Ons verwag dat God aan “Sy uitverkorenes reg sal doen.” Ons behoort aan God omdat Hy ons uitgekies het. God het ons nie uitgekies omdat ons bid nie, maar omdat Hy ons liefhet en omdat ons deur God uitverkies is, bid ons. Hoe weet ons dat ons uitverkies is? “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word” (Rom 10:9).


Tweedens gaan dit oor wat van óns verwag word wanneer ons bid dat God “reg aan ons moet doen.” As uitverkorenes behoort ons “dag en nag tot God te roep”, nie omdat Hy ons nie hoor nie, maar juis omdat ons seker is dat Hy ons sal verhoor. Wanneer ons in diepe afhanklikheid aanhou om Hom aan te roep, wil God sy genade aan ons skenk wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou, daarom bid en daarvoor dank.


Derdens het te doen met die teleurstellings wat ons soms op ons gebede beleef. Jesus vra: “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag?” (V 7) Natuurlik sal Hy reg doen! Jesus antwoord Homself: “Ek sê vir julle: Hy sal julle help , en gou ook!” (V 8). Baie van ons sal onmiddellik reageer en sê dat dit nie waar is nie. Ek bid al baie lank oor ‘n spesifieke saak en niks gebeur nie. Die weduwee in Jesus se storie het nie eers die waarborg gehad dat sy sou kry wat sy behoort te kry nie. Ons, aan die ander kant, het ʼn belofte uit die mond van Jesus self. Hy sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word” (Matt 7:7).


Die feit dat ons nog nie sien wat gebeur het op ons gebede nie, beteken nie dat God nie geantwoord het nie. Ons moet baie maal nie die antwoord sien nie, maar dit eers hoor. En dit is waar ons moeilikheid inkom. Die antwoord wat die Here gee, is nie altyd die een wat ons graag wou hoor nie. Soms is sy antwoord: Nee! Dit beteken nie ons moet ophou bid nie, maar beteken ons moet net nooit tou opgooi nie!


“Die ‘Onse Vader’ gebed kan maklik uit die kop geleer word, om dit met die hart te leer bid, neem baie langer” (Frederic Maurice)


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is en ook hier op die aarde. Ons wonder soms of ons gebede by U uitkom? Die fout lê egter nie by U nie maar by ons, want ons het soms te veel om te sê en veral om te vra. Ons het nie tyd om na U te luister wat U vir óns wil sê nie. Ons word nie bewus van U teenwoordigheid nie want ons konsentreer te veel op ons eie behoeftes. Dankie Here dat U steeds omgee en al is U antwoord soms nee, moet ons net nooit tou opgooi om te bid nie – U luister! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page