top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 10 : Selfstandigheid teenoor God (1).


Jak 4:13-14 – “Kom nou, julle wat sê: ‘Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.’ Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.”


Vergelyk ook Spr 27:1 – “Moenie roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal oplewer nie.”


Jakobus verander nou sy vermanings na ‘n konkrete onderwerp en rig sy skrywe aan diegene in wie se kring dit gebruiklik is om op ligsinnige en voorbarige wyse te praat oor besigheidsreise en handelsuksesse wat vir hulle voorlê. Hulle kyk na hulself in die spieël en sien ‘n trotse beeld van selfbeskikking met die voorstelling dat wat ookal beplan word, so te sê reeds uitgevoer is. Die wanneer en waarheen en tydperk van sommer vir ‘n “jaar lank”, is reeds selfversekerd vasgemaak. Bowenal “sal hulle sake doen en geld maak” en ewe spoggerig word ‘n hele jaar van hulle lewe ge-oormerk daarvoor. Alles gaan glad en volgens plan verloop!


Jakobus bederf egter hul “grootpratery” en bring hulle hard terug na die realiteit van die lewe. Hy maak dit baie duidelik dat die mens nie in beheer van sy eie lewe is nie: “Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!" Geen mens kan met sekerheid weet wat die volgende dag inhou nie en nog minder hoe dit benut gaan word. Dit is om “ ‘n damp” op dieselfde spieël waarin ons kyk, te blaas sodat die wasem op die spieël verskyn, “dit verskyn ‘n oomblik en verdwyn sommer weer.” Die realiteit van die lewe is dat die verganklikheid van ons aardse bestaan, ‘n werklikheid is.


Jakobus klink erg pessimisties maar dit is egter nie sy bedoeling nie. Wat hy wil probeer tuisbring is dat ons onkundig is oor die aard van ons brose bestaan. Dit is natuurlik nie verkeerd om vooruit te beplan nie. Om passief deur die lewe te gaan is ook verkeerd. Dit is wel verkeerd wanneer dit ‘n saak van eie willekeur is. Selfs Paulus het dit uitgevind toe God sy reisplanne gewysig het (Hand 16:6-10). Wanneer ons God nie ken in ons beplanning nie, erken ons eintlik ons selfversekerdheid. Maar ongelukkig kan geen mens met sekerheid weet wat die hoedanigheid van môre gaan wees nie. Die onsekerheid van ons aardse leeftydperk is ‘n feit.


“Gebruik jou tyd nóú want elke oomblik is ‘n wonderwerk wat nie weer gaan gebeur nie” (Herb Montgomery).


Gebed: Hemel Vader, ons maak planne vir die toekoms asof ons vir ewig op aarde gaan lewe. Eintlik is ons onkundig oor die brose aard van ons menslike bestaan. Maar die situasie is nog erger, ons kan geen sekerheid hê dat ons self hoegenaamd nog daar sal wees of in staat sal wees om die dag van môre te benut nie! Die regte ding sou wees dat daar beplan word dat U wil uitgevoer moet word en dat volle erkenning aan die beskikking van U, gegee moet word. Vergewe ons Here, wanneer ons nie U erken in ons toekomsplanne nie. Sluit ons asseblief in U Raadsplan in sodat dit beskik oor ons volle lewe. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page