top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 8 : Verleiding van die Wêreld (3).


Jak 4:2b-3 – “Waar kom die stryd vandaan........ Julle kry nie, omdat julle nie bid nie ......” V 4-5 – “Weet julle nie, julle ontroues, dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die Gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?


Vergelyk ook 1 Joh 2:15 – “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie.”


Jakobus se lesers kan nie besluit of hul vriende van God of vriende van die wêreld wil wees nie. Hy trek daarom ‘n direkte skeidslyn om hulle te herinner “dat vrienskap met die wêreld vyandskap teen God is.” Hulle (ons) is in konflik met hulself. Hul besluiteloosheid laat hulle selfs verkeerd bid (vv 2-3). Hulle is “ontrou” aan God want hulle het hul verhouding met God verruil vir dinge van die wêreld. Die 1953 vertaling word hulle egbreeksters genoem. Dit sluit natuurlik die manlike egbrekers ook in.


Ons kan nie God en die wêreld dien nie. God deel nie Sy skepping (ons) met die duiwel nie daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks 20:5). Jesus waarsku ook dat ons nie God en Mammon kan dien nie (Matt 6:24b). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “ ‘n vriend van die wêreld te wil wees” wat buite die konteks van God en Sy wil is. Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met die Here wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. God en die wêreld is in konflik met mekaar en sluit mekaar uit!


Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien of dalk nie wil dien nie. Ons moet Hom voluit dien. Ons behoort aan Hom: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal” (1 Kor 6:19-20).


Alles in die hemel en op aarde behoort aan God. Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neuse geblaas (Gen 2:7). Wanneer ons ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde. Satan het dan hierdie rondte gewen! Die keuse is onafwendbaar: “ ‘n vriend van die wêreld, is ‘n vyand van God.”


“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley)


Gebed: Here, wanneer ons saam met “vriende” beweeg wat die dinge van die wêreld liefhet, begin ons ook so te word, te praat en te handel. Dankie dat U genade só groot is dat U soos ‘n wagtende Vader U arms uitstrek na ons om ons terug by U te verwelkom, sonder verwyte. Dankie dat U na ons toe hardloop om ons met ons vuil toiingrige klere te omhels. Dankie dat U ‘n onveranderlike Vader bly en selfs ‘n ring aan ons vinger plaas en die vetgemaakte kalf vir ons slag. Dankie dat U nie kantoorure het nie, maar altyd daar is om ‘n stukkende sondaar te ontvang. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page