top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 8 : Verleiding van die Wêreld (2).


Jak 4:1-10 – “Waar kom die stryd vandaan........” V 2b-3 – “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”


Vergelyk ook Joh 15:7 – “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.”


Jakobus se argument begin nou erger afmetings aanneem. Eers beskuldig hy sy destydse en huidige lesers van “selfsugtige begeertes” en nou maak hy ‘n stelling dat ons “nie kry nie, omdat ons nie bid nie. En wanneer ons bid, ontvang ons nie, omdat ons verkeerd bid want ons wil net ons selfsugtige begeertes bevredig.” Wees tog bietjie genadig Jakobus! Inteendeel, Jesus het self gesê “dat ons alles sal ontvang wat ons in die gebed vra, ons moet net glo” (Matt 21:22), en ons is mos gelowiges. Jakobus, ons stem nie saam met jou beskuldiging nie.


Dit is presies die reaksie wat Jakobus van ons verwag het, want dan kan hy ons tot besinning bring oor hoe en wat ons bid. Ons “selfsugtige begeertes” het die inhoud en gesindheid van ons gebede verkeerdelik beïnvloed. Die bedoelings van hierdie gebede is nie om God te vereer nie, maar is daarop gemik om God te gebruik as instrument om ons verkeerde behoeftes te bevredig. Ons span selfs gebed in om ons doel te bereik want ons “kan dit nie in die hande kry nie en dan maak ons rusie en baklei ons.” Ons gee aan ons bose ondertong mooi name soos: “Ek kom op vir wat my reg is” of “Ons is maar net mense.” Wat egter gebeur is dat daar ‘n monster grootgemaak word onder toegedraaide watte en net die Gees van God kan hierdie monster keer. Daarom “bid ons verkeerd” omdat dit vermetel is om God vir iets te vra wat nie Sy wil is nie.


Om die saak nog meer te vererger, is daar mense wat God betrek by die redes van hul oortuigings: “God het dit aan my in gebed openbaar!” Wanneer gebed oor die “selfsugtige begeertes” van die mens gaan, verklaar ons nie ons afhanklikheid aan ons hemelse Vader nie (Matt 5:3). Dit is verkeerd bid en God sal nie gee nie. Gebed is nie ‘n toorformule nie. Wanneer ons egter bid vir dinge waaraan ons ‘n dringende behoefte het, soos onder andere byvoorbeeld krag onder beproewings, vergifnis van sondes, genesing van siekte of goeie gawes, sal ons ontvang op God se tyd en volgens Sy wil.


Met gebed vir die volheid van die Gees, gaan staan ons in bereik van God se genade. Ons erken Hom as ons goeie Gewer en Voorsiener van ons lewensbehoeftes. Die blote feit dat ons bid is egter nie die sleutel tot gebedsverhoring nie, maar wys ons volkome afhanklikheid en verklaring van ons behoeftes aan die Here. Dán kan ons met vrymoedigheid om ons “daaglikse brood” bid. Dán is gebed om ons onwrikbare vertroue in die Here te bevestig omdat die saak waarvoor ons bid vir ons van groot erns is wat by ‘n skoon lewe van ‘n gelowige pas, en nie heidense, wêreldse uitspattighede nie. Wanneer gebed verkeerd en onmoontlik word, is wanneer wêreldsoeke na wêreld-dinge, lei na wêreld-diens. Dit het die soeke na God en Godsdiens vervang.


“Dit help nie om by die hemel aan te klop op soek na aardse gemak en plesier nie. Dit is nie die soort geluk wat hulle daar uitdeel nie” (C.S. Lewis).


Gebed: “Here, waarom is ek soms so onverdraagsaam, rusteloos en ondankbaar? Waarom ly ek aan hierdie frustrasie van “wil hê” en ek kan dit “nie kry nie”? Waarom dink ek dit sal makliker wees om iets te kry met mag en geweld as om dit van U te vra? Waarom protesteer ek so maklik teen die minder aangename dinge in die lewe? Bo dit alles, waarom verloor ek so bitter maklik die ervaring van U stralende teenwoordigheid in en by my? Hoe sê U Here? My kind, jy het nie wat jy nodig het nie want jy bid nie reg nie! (Gebed deur Ruth Harms Calkin.)


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page