top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 8 : Verleiding van die Wêreld (1).


Jak 4:1-2 – “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle.


Vergelyk ook 1 Kor 3:3 – “Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?”


Jakobus probeer steeds uitvind wat die verborge redes is vir konflik tussen die gemeentelede. Hy begin nou met ‘n skril kontrasterende vraag aan die Christelike gemeente wat in 3:18 eintlik in vrede met mekaar behoort te leef, en sonder om doekies om te draai, te vra: “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan?”


Indien ons hierdie vraag vandag in Suid Afrika sou vra, sou die antwoorde maklik wees. Ons weet mos wat is die geskiedenis vir die verskille tussen ons kerke en gevolglike vorming van verskillende kerklike groepe. Ons weet mos daar is konflik in die gemeentes tussen Christengelowiges se persoonlikheidsverskille en die gevolge daarvan – “Ons breek weg en gaan soek ‘n ander kerk of stig sommer ons eie!” Ons sien mos in die media watter verskriklike foute – ons eie opinies – daar op kerkvergaderings gemaak word en wat nie ons goedkeuring wegdra nie. Die redes vir “die stryd” is legio!


Jakobus se eerste lesers sou waarskynlik net soos ons vandag, presies kon verduidelik waar dinge verkeerd geloop het en wie verantwoordelik is vir die konflik. Jakobus weet egter wat die antwoorde op sy vraag gaan wees, maar dit is alles net die simptome. Die oorsprong van die “stryd en rusies” is volgens Jakobus, "selfsugtige begeertes!” Dit gaan oor wat ons wil hê en nie wat God van ons verwag nie.


Hoe kan Jakobus dit waag om so-iets aan ons toe te dig? Hy kan want hy ken die dieperliggende dryfveer wat meeste van ons tot ekstreme optredes aanvuur: “Julle wil dinge hê maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle” - Ons wil dit ook hê want ander het dit. Ons het dit nie regtig nodig nie maar “we want to be like the Jones’s” – verleiding van die wêreld wat afguns, jaloesie en naywer tot gevolg het - begeertes wat nie versadig word nie.


Maar Jakobus, oordryf jy nie dalk ‘n bietjie nie? Dit is verregaande om te dink dat ek sal moord pleeg oor my onversadigbare begeertes! Wel, Dawid het dit ondervind met ontsaglike gevolge vir homself, sy huis, sy ryk en ander (2 Sam 11)! Wanneer ons in die spieël kyk (1:23), sien ons net onsself raak en menigte is net behep met hul eie behoeftes. Hebsug en naywer veroorsaak “rusie”, nyd en jaloesie wanneer dit ander mense behels. ‘n Meningsverskil is op sigself nie ‘n krisis nie want ons dink om verskeie redes verskillend. Wanneer "selfsugtige begeertes" egter oorneem, word dit ‘n obsessie om drifte, drange, mag, rykdom en sinsgenot na te jaag. Dan word vrede die slagoffer en ander mense wat in die pad staan van hierdie begeertes, word met ”rusies en stryd” verwyder.


“Ons is hier om die tuin van die wêreld nat te spuit, maar uit selfsug staan die meeste van ons, die meeste van die tyd, op die tuinslang” (Anoniem).


Gebed: Here Jesus, U het vir ons sulke pragtige voorbeelde kom gee. U hele aardse lewe was deurspek met onselfsugtige dade, gebed en liefde. As ons dit maar net kan nadoen. Ons raak so maklik in ‘n stryd gewikkel en obsessief begeer ons dinge wat soms nie eers nodig is nie. Here, niks op hierdie aarde is só belangrik dat ons ons harte met jaloerse begeertes moet vul nie. Daarom pleit ons dat U ons gevul sal hou met U Gees. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page