top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (6)


Jak 3:7- – “So is die tong.... V 9 – “Met die tong loof ons die Here en Vader.”


Vergelyk ook Kol 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”


Die tong is darem nie altyd net ‘n slegte deel van die menslike liggaam nie. Dit beteken nie dat ‘n mens stom deur die lewe moet gaan nie en eerder stilbly as om te praat, omdat jy bang is jy sê dalk iets verkeerds, (mooi luister en stadig om te praat (1:19). Daar is tye wat ons nie mag stilbly nie en móét praat. Die sonde van versuim kan net sulke vernietigende gevolge hé. ‘n Dissiplinerende antwoord of woord van vermaning, is nie dubbelhartigheid nie, maar eerder die korrekte optrede van dink voor jy doen of sê. As ons die tong kan beheer, is ons in beheer van baie dinge


Dit is belangrik om op die regte wyse die tong te gebruik – om te seën eerder as te vervloek, (“Geseënd is die sagmoediges; vredemakers”.... Matt 3:5; 9). Die manier van praat moet pas by die karakter van die mens wat praat. Daar moet beheer wees tussen wat ons sê en hoe ons is en doen. Om God te loof is om ons naaste ook te loof, dit kan dalk net die ander persoon se afstootlikheid of onaangenaamheid, verander. Jakobus sê ons geloof moet ons tonge aanraak en ons aard en inhoud van ons woorde verander!


Daar is baie terreine om jouself in bedwang te hou en dit is trouens dikwels die begin en die oorsaak daarvan dat ’n mens in ander opsigte beheer oor jouself verloor. Dit is nie ‘n skande om die woorde “ekskuus” en “ek is jammer” as deel van jou woordeskat te gebruik nie. Wanneer ons mekaar as beelddraers van God erken en eerbiedig, maak ons mekaar net mooier. Dit begin egter by onsself en indien ons getroud is, in ons huwelike, in ons gesinne. Dan vergemaklik dit die situasie soveel meer daarbuite.


Kom ons spandeer net enkele oomblikke in die woord en ontdek die positiewe kant van die tong:

  • Spr 15:1-2 – ‘n Sagte antwoord laat woede bedaar..... ; Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks.

  • Spr 15:4 – Kalmerende woorde bring lewe...

  • Spr 15:23 – ‘n Mens vind vreugde as hy die antwoord het; wat is beter as die regte woord op die regte tyd.

  • Spr 16:23-24 – ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde só dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning soet en geneeskragtig vir die mens.

  • Spr 10:32 – Die regverdige weet om die gepaste ding te sê.

  • Spr 21:23 – Wie sy mond en tong in toom hou, hou hom uit gevaar.

  • Ps 35:28 – My tong sal nie stil word oor U trou nie, dag vir dag sal ek U loof.

  • Ps 89:2 – Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte.

  • Ps 92:2-3 – Dit is goed om die Here te loof, om U Naam te besing, om elke môre van U liefde te getuig, en elke aand van U trou, Allerhoogste.

  • Ps 95:1-2 – Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind.

  • Hoogl 1:15-16 – Jy is mooi my liefling... Jy is mooi, man wat ek liefhet...

  • Hoogl 4:9 – Jy het my hart gesteel my beminde bruid .....

“Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd” (Spr 25:11).


Gebed: Here, saam met Dawid wil ons vandag smeek: Here, my Rots en Verlosser, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees (Ps 19:15). Vergewe ons wanneer ons terughoudend is wanneer dit by U kom en ons eerder suutjies praat wanneer ons oor U praat. Verander ons opstandige harte sodat ons woorde U vrede en vreugde kan uitdra en ons as U ligte helder kan skyn in hierdie donker wêreld. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page