top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (5)


Jak 3:7- – “So is die tong.... VV 9-12 – Met die tong loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom lof en vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. ’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ’n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!”


Vergelyk ook Matt 7:18-19 – “’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”


Vir Jakobus was dit onaanvaarbaar dat dieselfde tong terselfdertyd God kan loof en die mense wat Hy na Sy beeld geskep het, kan vloek. God word dus by beide gevalle betrek want God is betrokke by die mens van voor sy geboorte af. Die ongehoorde boosheid van die tong is dat dit nie goed óf kwaad doen nie, maar goed én kwaad. Dit hanteer lofprysing van die Allerhoogste net so bekwaam soos gruwelike taal. Volgens Jesus is dit die werklike bron van onreinheid wat uit ons binneste voortvloei: “Wat by die mond uitkom maak ‘n mens onrein” (Matt 15:11).


Met ‘n aantal selfverklarende beelde uit die natuur wat welbekend was by sy lesers, beklemtoon Jakobus verder die teenstrydigheid van die tong. ‘n Fontein wissel nie self die onderaardse bronne nie en kan dus nie een oomblik vars water voortbring en ‘n rukkie later brak water lewer nie, tensy dit deur die mens besoedel word. Bome kan ook nie iets teen hul natuur voortbring nie. ‘n Boom word aan sy vrugte geken (Matt 7:18). Net so verraai ‘n fontein ook deur die water wat dit voortbring, die aard van die bron waardeur dit gevoed word.


Wanneer ons God loof, dra ons vyebome vye - ’n vyeboom kan net vye dra. Wanneer ons vloek, dra ons geen vye nie, dan word ons uitgekap. Soet water kan nie brak water ook oplewer nie. Lewer jou fontein (mond) vars water en vrugte van die geloof? Of lewer jou mond brak water en vrugte van die sonde? Ons tonge moet dus op die ritme van die natuur, die eenheid van die lof aan God en liefde vir ons naaste verkondig. “ ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Matt 12:33b).


Kom ons wend ‘n daadwerklike poging aand dat ons tongsondes nie die lewenseenheid versteur nie. Dit tas die karakter van die Christelike lewe aan. Kom ons gebruik ons tonge as beitels om die koninkryk van God mooi uit te bou. Kom ons spreek tot mense en oor mense, soos wat God dit graag sou wou hoor!


Wat my woorde sê: "Deur die woord wat ek spreek, maak ek myself aan ander bekend. Die prys van alles het opgegaan, behalwe dié van woorde – dié het blykbaar gedaal. Tog kan ek praat omdat IEMAND met my gepraat het en nog altyd wil praat. Tog kan ek waar woorde spreek omdat HY wat die WOORD is ook die WAARHEID is. Daarom kan ook my woorde krag hê omdat die WOORD vlees geword het” (Prof Johan Heyns).


Gebed: Here, laat U Gees beheer neem oor my tong. Laat ons woorde kosbaar wees aan ander. Dankie Gees dat U selfs ons stotterende gebedswoorde vat en dit hemeltaal maak. Vergewe ons wanneer ons nie goeie vrugte dra nie. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page