top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (4)


Jak 3:7- – “So is die tong.... V 7 “Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier word en is al deur die mens getem, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ‘n rustelose kwaad, vol dodelike gif.”


Vergelyk ook Ps 8:7 – “U het alles aan die mens onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis.”


“So is die tong.....” Hierdie klein en handige instrumentjie is nog nie aan sy einde nie. Hy is nog nie onder beheer gebring nie. Jakobus wys daarop dat die mens só geskape is dat hy wel in staat is om oor die vier kategorieë van die diereryk te heers (Gen 1:28). Hoe groot of gevaarlik hulle ook mag wees, “elke soort dier word en is al deur die mens getem.” Elke moontlike spesie van wilde diere, geveerdes, reptiele en seediere is deur die mens oorweldig of doodgemaak, as hulle hom bedreig of as lewensmiddele en produkte gebruik is.


Maar..... “geen mens kan die tong tem nie!” Ons woorde verander in messteke, dit maak seer en breek jarelange vriendskappe op. Selfs huwelike word verwoes deur fatale woorde wat uitgeglip het. Dit is deesdae aan die orde van die dag dat openbare figure moet betoog dat hulle “buite konteks” en foutiewelik aangehaal is. Verskeie mense het al hul loopbane verwoes deur ‘n onbesonne uitspraak of ‘n gewraakte woord te uiter teenoor ander bevolkingsgroepe.


In die tong setel ’n “rustelose kwaad, vol dodelike gif.” Jakobus het al in 1:8 verwys na die onbestendige mens wat altyd aan die twyfel is in sy doen en late. Die tong is ook so, hy besit ‘n soort onbestendige boosheid wat onvoorspelbaar is en vyandskap aanblaas. Dawid soek die Here se beskerming teen sulke mense: “hulle tonge is so giftig soos slange, hulle woorde so venynig soos adders” (Ps 140:4). Paulus vat dit nog ‘n stappie verder: “Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid” (Rom 3:12b-14). Die tong is voorwaar ’n gevaarlike instrument wat onheil, ongeluk, dood en verwoesting kan saai onder die mense!


Maar ...... “geen mens kan die tong tem nie!” Maar ...... “GOD KAN!” Dít is die verskil! God wil nie dat die mens wat Hy geskep het net laer as die hemelwesens, mekaar vermoor met die tong nie. Ons is broers en susters van mekaar want ons is God se kinders. God wil deur Sy Gees ons uit hierdie gemors waarin ons in ons huwelike, verhoudings en selfs die kerk verval het as gevolg van ons tonge, verlos. God wil ons daaraan herinner dat Hy op Pinksterdag almal met die Heilige Gees vervul het en dié Gees het ons verskillende tale gegee (Hand 2:4), sodat ons wêreldwyd met die tong, Sy getuies moet wees, en nie mekaar verskeur nie!


“Die tong is maar 80 millimeter lank maar kan ‘n man van 2 meter doodmaak.” (Japanse spreekwoord)


Gebed: Here, ons wil saam met Dawid vir U vra: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê” (Ps 141:3). Laat ons eerder swyg as om ons woorde in messteke te verander wat ander verwond. Laat ons eerder ons woorde weeg as om dit te tel. Laat ons eerder ons tonge gebruik om van U te getuig. Amen



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page