top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 6 : Beheer van die tong (3)


Jak 3:5-6 – “So is die tong ook maar ‘n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ‘n Klein vuurtjie kan ‘n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.”


Vergelyk ook Spr 16:27 – “ ‘n Kwaadwillige mens bring net teenspoed; wat hy sê is soos ‘n verterende vuur.”


Jakobus gebruik sterk woorde om die tong se verwoestende mag aan te dui. Die beeld van vernietigende bosbrande was bekend aan sy lesers, veral aan die boere. Dit kon ‘n hele oes verwoes. Die beeld is soveel duideliker vandag want onlangse bosbrande in verskeie wêrelddele is nog vars in die geheue. Die tong se mag het verreikende gevolge – ‘n skinderstorie kan vir duisende kilometers versprei word en hoe meer dit oorvertel word, hoe meer stertjies word bygevoeg en hoe groter word die “vuur.” Die “vuur” verteer die ander persoon op ‘n afstand, dit is nie nodig om naby te wees om “vermoor” te word nie.


Die tong word vereenselwig met ’n “wêreld vol ongeregtigheid.” Dit het die potensiaal om die hele wêreld vol boosheid te deurdring. Dit kan moontlik verstaan word dat die tong ’n “mikrokosmos,” ’n wêreld in die kleine is van al die boosheid in die wêreld. Die tong kan vuil praatjies verander dat dit goed klink en sodoende word “die hele mens besmet” en ander word ook in dieselfde bose kring verswelg – ‘n “Wêreld wat nie die Gees kan ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie” (Joh14:17a); ‘n “Wêreld waar Jesus Hom net aan Sy dissipels gaan openbaar en nie aan die wêreld nie” (Joh 14:22); ‘n Sondige wêreld waaraan Jesus se dissipels nie gelyk word nie” (Rom 12:2), want dit is ‘n tong “vol ongeregtigheid” wat ‘n wêreld skep sonder God.


Die mens en die menslike samelewing word met ander woorde voortdurend en in elke stadium van ons lewe geteister deur die misbruik van die tong – “dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand." Die skokkende ervaring is natuurlik dat hierdie vuur uit die hel geïnspireer word. Dit is egter nie die duiwel se skuld nie, hy is slegs die “brandstigter”wat die vuur uit “die hel aan die brand steek.” Die mens versprei die brand! Die tragiese daarvan is dat dit gewoonlik Christengelowiges is wat die veldbrand van boosheid, nydigheid, woede, afguns, twis, vyandskap, leuens, vernedering, teleurstelling, skinder en selfs versuim, deur die mensewêreld laat versprei. Daardeur word ons eie en ander se lewe verander in hel.


Die tong spreek darem nie net altyd kwaad nie. Ons geloof kan ons tonge aanraak en die aard en inhoud van ons woorde verander. Indien dit nie so was nie sou God ons sonder tonge geskep het: “Kom laat ons jubel (met die tong) tot eer van die Here, laat ons juig (met die tong) oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof (deur ons tonge), laat ons Hom toejuig (met ons tonge) met lofsange” (Ps 95:1-2).


“Om tandepasta uit ‘n buisie te druk is maklik, maar om dit weer terug in die buisie te probeer kry, heeltemal onmoontlik.” (Onbekend)


Gebed: Here, ons erken dat ons tonge ‘n manier het om sy eie pad te loop en onnadenkend praat ons dan so maklik, sonder om te dink watter skade ons woorde aanrig. In plaas daarvan dat mense U in ons sien, sien hulle net die groot vuur wat die bos aan die brand steek. Help ons Here, om met ons tonge eerder lewende getuies vir U te wees. Help ons om met ons tonge woorde van dank uit te spreek soveel kere soos wat daar voëls in die lug is. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page