top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 5 : Goed Doen (5)


Jak 2:20-24 – “Jou dwaas, wil jy ‘n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. So is die Skrif vervul wat sê: ‘Abraham het in God geglo, en daarom het God hom vrygespreek,’ en hy is ‘n vriend van God genoem. Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.”


Vol vertroue dat die argument beklink is, noem Jakobus sy fiktiewe teenstander ‘n "dwaas." Om sy standpunt te beklemtoon gebruik hy ‘n skriftuurlike argument om dit duidelik te maak dat sy “geloof sonder dade nutteloos” is. Jakobus gebruik in sy eerste voorbeeld vir Abraham, die onbetwisbare voorvader en standaard vir elke Jood en selfs vir heidene – die vader van gelowiges! Abraham is egter al 40 jaar vantevore voordat hy vir Isak moes “offer”, deur God regverdig verklaar omdat hy in God geglo het (Gen 15:6). Hy het eers geglo voordat hy gedoen het. Hy het gedoen omdat hy geglo het. “Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie?” Hy is geregverdig op grond van sy geloof – ‘n geloof wat in werke bewys is.


Veertig jaar nadat God reeds vir Abraham geregverdig het, “het hy sy seun Isak op die altaar gelê” (Gen 22). Die daad van offerbereidheid was niks anders as geloof in aksie nie. Abraham se geloof het saam met sy dade gefunksioneer. Geloof en dóén was in dié geval twee komponente van dieselfde saak maar Abraham se geloof het eers “volkome” geword na sy dade – ”Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.”


Jakobus keer dan terug na sy lesers toe en wil aan hulle beklemtoon dat geloof “gesien” moet word: “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” Uit die verbysterende verhaal van die altaarlegging van Isak het dit duidelik geblyk hoe die ware geloof funksioneer: Die “vryspraak” van ’n mens is afhanklik daarvan dat daar ooreenstemmende dade by sy geloof móét wees, nie net geloof nie.


Abraham se gehoorsame antwoord was ‘n gelowige reaksie op God se beloftes. Hy het sy geloof bewys in ‘n lewe van toewyding. Toewyding is die manier waarop ons geloof vul met liefde. Sonder liefde raak ons geloof dood. Ons moet dóén wat ons glo en dit met-en-uit-liefde doen. Sonder die goeie dade is ons geloof nie diensbaar nie.


“ ‘n Belydenisgeloof word afgerond in ‘n belewenisgeloof” (William Barclay).


Gebed: Ons Vader, dankie dat ons uit genade gered is. Ons kan nie genade koop of verdien nie, U gee dit as ‘n geskenk en dit is verniet, gratis! Dankie Here, ons aanvaar dit in geloof. Dankie dat ons aan U behoort vir tyd en ewigheid want ons is U eiendom. Skenk ons die ywer om uit dankbaarheid op U liefde te antwoord. Laat ons deur ons dade die vreugde van ons redding ervaar. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page