top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Gevaarpunt 5 : Goed Doen (2)


Jak 2:14 – “Wat help dit, my broers (en susters), as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?


“Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” Baie skrifverklaarders meen dat Jakobus hier vir Paulus weerspreek want volgens Paulus is geloof in Jesus Christus genoeg om gered te word. Net Jesus kan red. Ons kan nie ons redding verdien nie dus kan ons nie daarvoor werk nie. Om ons nog verder deurmekaar te maak, was daar baie redenasies deur die eeue om dit te bemoeilik. Die redenasies handel oor die dieselfde vraagstuk: Geloof alleen vir regverdiging (redding) of geloof wat gepaard gaan met werke? Beide Jakobus en Paulus se siening is egter reg en aanvullend tot mekaar.


Paulus sê: Glo reg, daaruit vloei goeie en regte werke –

  • Rom 2:6 – “God sal elkeen vergeld volgens sy dade.”

  • Rom 14:12 – “Elkeen sal rekenskap aan God oor homself moet gee.”

  • 1 Kor 3:8 – “God sal elkeen beloon volgens sy werk.”

  • 2 Kor 5:10 – “Elkeen sal voor die regterstoel van Christus verskyn sodat hy kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het.”

  • Kol 3:9 – “Breek met die ou natuur en sy slegte dade.”

  • Ef 2:8-9 – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”

  • Ef 2:10 – “God het ons gemaak om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Jakobus sê: Wys my jou werke dan sal ek sien of jou geloof reg is –

  • Jak 2:14 – “Wat help dit, my broers (en susters), as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?

  • Jak 2:17 – “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.”

Jakobus en Paulus verskil dus nie in hul leringe van regverdiging (redding) nie, hulle benader dieselfde onderwerp vanuit verskillende oogpunte. Paulus beklemtoon dat regverdiging nie net deur geloof alleen is nie terwyl Jakobus die klem plaas op die feit dat geloof in Christus goeie dade tot gevolg het.


Ons word dus nie gered deur ons goeie werke nie, maar deur geloof alleen in wat Jesus Christus, ons Here, vir ons aan die kruis gedoen het. Die Here verwag egter dat ons as gelowiges, uit dankbaarheid met die Heilige Gees saamwerk in die heiligmaking proses, om meer soos Jesus te word.


“Dit wat ons hoor, word nie gedóén nie; dit wat ons glo, word nie gelééf nie” (Prof Dirkie Smit)


Gebed: Here, natuurlik is ek gewillig om enigiets vir U te doen, maar.... daar is ‘n paar voorbehoude. Ek meen, ek wil my darem nie in ‘n ding begewe wat buite my normale kapasiteit lê of wat indruis teen my bekende lewenstyl nie. Toe ek gemeen het ek sal vir u goeie werke doen het ek nie verwys na die plakkerskampe, die vigskliniek of die boemelaars nie, Here. ‘n Beskaafde mens kan siektes daar optel. Ek weet ek is veronderstel om myself onvoorwaardelik te gee vir diens aan U en my naaste. Miskien eendag as ek ouer is, Here. Toe ek gesê het ek gee my lewe aan U oor was dit tog net beeldspraak, Here. Dit was net teoreties en nie eintlik ‘n feitelike stelling nie. U verstaan dit mos so Here? Hoe nou, Here? U vra of U kruisdood ter wille van my ook net teoreties was? (Gebed deur Flora Larsson, effens verkort.)


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page