top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


AMEN! (1)


Matt 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Jesus het die skare klaar geleer. Die menigte mense wat na Hom daar op die berghang geluister het, was afkomstig van Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan (Matt 4:25). Hulle het Jesus gevolg weens Sy wonderwerke en genesing van baie siekes. Hulle het waarskynlik nie veel méér geweet van Hom nie daarom was hulle “verbaas oor Sy onderrig.” Ons weet nie hoe lank die menigte daar op die berg na Jesus gesit en luister het nie maar wat ons wel weet is dat die Bergpreek nie ‘n klomp mooi woorde of teorieë is nie.


Jesus se woorde is ook nie ‘n klomp losstaande waarhede nie maar vorm ‘n geheelbeeld oor Sy verwagtinge ten opsigte van ‘n heilige lewe. Dit is wat Jesus verwag van Sy dissipels om hierdie lewenswyse te leef en toe te pas, ‘n lewenswyse van ‘n nuutgemaakte Christen wat as kind van God, onderweg is na die wederkoms. Daar was nog nooit voorheen ‘n beter preek soos hierdie een nie en daar sal nooit weer ‘n beter een wees nie, want die Leraar was Jesus!


“Now the whole is greater than a collection of the parts, and we must never lose sight of this wholeness” (Martyn Lloyd-Jones).


Die skare was heel moontlik stil tydens die preek maar toe Jesus stil raak was hulle “verbaas.” Hierdie Man van Nasaret lyk net soos een van hulle en praat selfs dieselfde taal as meeste van hulle. As die seun van ‘n timmerman het Hy geen geleerdheid of formele opleiding in die geestelike leringe gehad nie. (Tog het die meeste geleerdes deur die eeue by Hom kom leer.) Heel moontlik het hul verbasing daartoe gelei “dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: ‘Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer en dit kom met gesag! (Mark 1:27). Hulle het nog nooit so iets gehoor nie!


Die oorsprong van hul verbasing was dat “Hy hulle geleer het soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” Jesus is nie maar net nog ‘n Joodse rabbi nie. Hy het aarde toe gekom om te kom word wat Hy nooit was nie maar gebly het wat Hy is – Hy het volwaardig mens kom word wat Hy nooit was nie, maar God gebly wat Hy is! Sy hulpmiddels om aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het was lewende woorde, afkomstig van ‘n lewende God! Sy gesag is onbeperk.


Gebed: Here Jesus, ons het ook geluister na U woorde. Vir ons is dit nie woorde van 2000 jaar gelede nie, maar nóú. Dankie dat ons nie soos die Jode van destyds ‘n massa reëls moet gehoorsaam nie. U verwag van ons om van binne af buitentoe te verander en om heeltyd in nuwe verhoudings met ander mense en met God te staan. Dankie dat U vir ons die voorbeeld kom stel het hoe om daaraan gehoorsaam te wees. Hervorm ons harte sodat ons verhoudings met ander elke dag gesien kan word in ons woorde, dade en gesindhede. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page