top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE TWEE FONDAMENTE (6)


Die Hoorder wat nie Gehoorsaam is nie (1)


Matt 7:26-27 – “En elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”


Vergelyk ook Spr 18:2 – “Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.”


Tweedens vestig Jesus in hierdie perikoop ons aandag op die hoorder wat ongehoorsaam is. Hy hoor ons Verlosser se woorde maar handel nie daarvolgens nie. Hy is totaal die teenoorgestelde van die “gehoorsame hoorder.”


Jesus vergelyk hierdie ongehoorsame man met ‘n dwaas. Die dwaas ontsien geen moeite om sy huis te bou nie maar ongelukkig maak hy ‘n ontsettende basiese fout – hy het geen fondament in sy beplanning en bouwerk bygevoeg nie, hy het net die stene in reguit rye op die sand gaan neerlê.


Om iemand ‘n dwaas te noem is baie negatief. Dit beskryf iemand wat as gevolg van sy swak intellek, onverstandig optree. Wanneer hierdie term in die Skrif gebruik word, is dit gewoonlik nie net van ‘n onverstandige of irrasionele persoon nie maar ook immoreel. Dit is iemand wat “stupid” genoeg is om sy eie pad van sy eie godsdiens te loop instede daarvan om na die woorde van die Waarheid te handel – “hy stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak.”


Die skrifgeleerdes en Fariseërs was skuldig aan bogenoemde want hulle leringe was gebaseer op hul eie interpretasie van die Skrif. Hulle het nie Moses, die profete of Jesus geglo nie maar opgetree volgens hul eie menslike tradisies. Indien hulle wel sou geglo het, het hulle hulself onderwerp aan die Messias.


Vandag is daar menigtes wat dieselfde optree. Sommiges hoor die Woord maar verwerp dit onmiddellik as dwaasheid – hulle het geen intensies om ‘n Christen te word nie en verkies om as ateïste aan te ploeter. Ander weer, hoor die Woord en beskou hulself as Christene, maar verkies om steeds die beginsels wat die wêreld bied, die "breë pad," aan te neem – dit is diegene wat "hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie.” Hulle ontwerp hul eie ketter-teorieë om God se morele wette te vervang. Mensgemaakte reëls vervang die Woord van die Waarheid en dan word dit gekoppel aan “misterieuse leiding van die Gees.” In vergelyking hiermee is dit die twee huise wat op sig eenders gelyk het. Met die blote oog kan egter nie gesien word wat onder die huis aangaan nie – of daar ‘n fondament is al dan nie. Die verskil in ‘n mens se lewensgesindheid en geloofskrag kan met ander woorde nie van buite af bepaal word nie.


Waar die geloofsfondament ontbreek, vind ons gewoonlik die mens wat elke geloofsaak bevraagteken. Dit is dan ook nie lank nie of hy raak verbitterd teenoor die kerk, sy gebedslewe neem af en daarmee saam word die ander “skynheilige gemeentelede” wat soos “witgepleisterde grafte” in die kerk met hul “stywe nekke” sit, beswadder. (Welkom vriend, daar is nog plek vir jou ook!) Stelselmatig verkrummel sy huis stukkie vir stukkie want dit is op sand gebou. Dit neem dan ook nie lank nie voordat dit heeltemal inmekaar tuimel. Hy het nie sy lewe geanker op die Rots nie maar op die verskuiwing van die los sand van sy eie menslike opinies.


Gebed: Here, ons weet nie altyd waar om te begin beplan om die perfekte huis te bou nie. Ons begin gewoonlik by die aansig daarvan om ander te beïndruk en vergeet van die fondament. Wanneer die storms van die lewe om ons dan begin breek is ons eerste om te vra: “Waar is U?” Maak ons nederig Here, laat ons by die regte plek begin, by die fondament, die Fondament wat storms laat bedaar net deur ‘n woord te spreek. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page