top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE TWEE FONDAMENTE (2)


Matt 7:24-25 – “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”

Vergelyk ook 1 Joh 2:17 – “En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”



Tydens Sy aardse verblyf was Jesus as die seun van ‘n timmerman, bekend met die bou van huise en het geweet hoe belangrik ‘n goeie en behoorlike fondament moet wees. Hy het dus ook geweet dat ‘n huisbouer in Palestina, vooruit moet dink en goed moet beplan. Tydens die somermaande blyk ‘n stuk grond volmaak te wees om ‘n huis te bou, maar in die wintermaande tydens die reënvalseisoen, het dieselfde volmaakte stuk grond gedisintegreer en in ‘n rivier verander. Selfs op die mees perfekte stuk grond was hul genoodsaak om ‘n goeie fondament tot op die rots te grawe.


Met hierdie gelykenis van die twee huise fokus Jesus egter op die fondamente. Dit is dáár waar die groot verskil in kom. Dit blyk aanvanklik dat die huise dieselfde is, nie op verskillende plekke gebou word nie en dat beide onderwerp word aan dieselfde weersomstandighede, dieselfde vloedwaters en winde.


Hierdie twee huise kon selfs identies wees en langs mekaar gebou wees. Met die blote oog kan geen ander mense weet of hierdie huise fondamente het nie en indien wel, hoe dit lyk nie. Dit is eers wanneer die storms daarteen ruk dat die radikale verskille sigbaar word. In vergelyking, lyk en klink die “vals profeet” van buite opreg, maar van binne word hy aan sy vrugte herken. Die twee poorte lyk van ‘n afstand af dieselfde totdat mens nader beweeg en sien dat die “nou poort” die ingang is na die “smal weg.” Van buite af kan die verskil in mense se lewensgesindheid en hul geloofskrag nie bepaal word nie. Net die Here weet of hulle lewenskonstruksie op Sy fondament gebou is.


Met die eerste waarneming lyk die huise eenders. In vergelyking het alle mense dus gelyke kontak met wat Jesus hier in Sy Bergpreek vir ons bied. Die verskil is dat diegene wat hul konstruksie op Jesus as fondament bou, onderhewig is aan ‘n verhouding wat aan sekere eise van God se Woord onderwerp gaan word en wat bepaalde toetse sal moet deurstaan. Die versoeking is egter altyd daar om die “breë weg” te volg wat die minste weerstand bied.


‘n Vertoon van goeie geloof word dus voorgehou maar daar is gewoonlik nie ‘n stewige fondament nie. Die gevolg is dat probleme op ons pad nie tot in diepte deurgeworstel word nie en die “huis” inmekaar tuimel. Die storms of versoekings, watter vorm dit ookal aanneem, is die verleidings van satan wat natuurlik altyd ‘n groot deel geweld saamsleep, en gevolglik menigte met hom op tou neem. Jesus wil met die Bergpreek hê dat ons die koste moet bereken en die regte huis op ‘n goeie fondament bou, voor dit te laat is.


Gebed: Here, bewaar ons daarvan om U hulp te vra en dan oplossings van onsself te verwag. Ons is só geneig om ons konstruksies met ons gedagtes en selfs gesprekke met ander te bespreek maar wanneer ons by die oprigting daarvan kom, is dit sonder die korrekte fondament. Here, gee ons ‘n hupstootjie sodat ons die regte besluite kan neem deur die krag van U Gees. Maak aan ons die eerste stap bekend sodat ons die geheelprentjie tot by die fondament van die huis kan sien, nie net die mooi geverfde mure nie. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page