top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


TWEE PAAIE (6)


Matt 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Gal 6:7-8 – “Moenie julself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.”


Kontrasterend teenoor die “nou poort en smal pad” is die “wye poort en breë pad.” Hierdie pad is die maklike pad. Die inspanning om daarop te wees, is geen vergelyking teenoor die “nou poort en smal pad” nie. Daarom verkies die meeste mense dit. Daar is geen opoffering om dan hul eie wellustige begeertes te bevredig en saam met die massas te wees nie. Hulle is soos ‘n gelukkige klomp varke wat van die een hoop gemors na die volgende hoop gemors loop en vreet aan alles wat anti-Christus is.


Mense op hierdie pad saai saad van ongeregtigheid en lewe vir die oomblik. Die perspektief van die ewigheid is nie deel van hul woordeskat nie. “Ons sal later....” is die huidige norm. Hulle is “slawe van die sonde” (Joh 8:34). Dit word die mees logiese weg na die “aardse paradys” – ‘n paradys van vleeslike behoeftes. Daar waar die mens sy eie lewe kan bestuur. Álles is aanvaarbaar solank dit net nie Jesus Christus insluit nie, enigiets met die Bybel te doen het nie of die woord Christenskap bevat nie. Hulle is die “seuns en dogters van plesier” wat die standaard van “solank dit goed voel, doen dit” slagspreuk aangeneem het. Almal skepsels van ons hemelse Vader!!!


Die nadeel van die “wye poort en breë pad” is dat Jesus ons waarsku daarteen. Wanneer ons Sy argument in oënskou neem met die ewigheid in gedagte, is dit skrikwekkend dat baie nie gehoor gee daaraan nie. Hulle weet wat die verskil tussen die goeie nuus en slegte nuus is, maar verkies om die logika van Jesus nie te aanvaar nie. Jesus het meer keer gewaarsku teen sonde en die gevolge daarvan, as al die profete saam want Hy is besorgd oor Sy skape.


Eendag moet elke mens die finale tree gee in die ewigheid in. Daar is net twee keuses gedurende ons aardse lewe wat hierdie finale bestemming gaan beïnvloed: Die “nou poort en smal pad” of die “wye poort en breë pad,” geen middeweg of moderne alternatief nie! Jesus sê: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt 10:28). (Sjoe, laat mens dink né!)


Ons weet dat na ons dood, ons naak voor “die groot wit troon gaan staan by die Een wat daarop sit. Die aarde en hemel gaan voor Hom padgee, want daar sal nie meer plek wees vir hulle nie. Die dooies, groot en klein sal voor die troon staan en die boeke sal oopgemaak word. Die dooies word dan geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die dood en doderyk word dan in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, word hy in die vuurpoel gegooi” (Op 20:11-15)


“GOD SE PAD IS AL PAD!”


Gebed: Baie dankie Jesus dat U vir ons die ewige hemelse blyplek voorberei. Dankie dat U die weg, die waarheid en die lewe is wat na ons hemelse Vader toe lei. Dankie dat U ons vertrekpunt en ons eindbestemming is. Ons bid vir hulle wat nog nie die “nou poort en smal pad” gevind het nie, dat hulle dit spoedig sal doen. Ons bid dat elke mens U as reisgenoot en metgesel op ons aardse roete, sal kies. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page