top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


TWEE PAAIE (4)


Matt 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Hand 2:38 – “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige Gees as gawe ontvang.”


Ons het vandag die eerste smal stegie op die “smal pad” bereik. Dit is werklik so nou dat ons sondaars net een op ‘n slag daar kan deurgaan. Alhoewel God se genade ‘n gawe is vir almal wat daarna soek, is dit steeds elkeen se eie verantwoordelikheid om berou te toon teenoor sy sonde en in Jesus Christus te glo. Om deel te wees van ‘n Christen familie of om lidmaat te wees van ‘n kerk, beteken nie “vrye toegang” na die “smal pad” nie. Niemand anders kan berou hê oor jou sondes en geloof hê in Jesus Christus om jou onthalwe nie, behalwe jyself!


Omdat ons op die breë pad gebore is, het elkeen van ons net een keuse: Gaan ons saam met die “blinde en dowe” massas bly, of gaan ons toelaat dat die Heilige Gees ons verander in nuwe mense? Gaan “elkeen” sy of haar sondes bely en belowe om Jesus volkome te vertrou en Hom te volg? Dit is die verskil tussen hemel en hel. Die regte keuse sal ons deur hierdie smal stegie laat.


Ons is deur die smal stegie en uitasem gespook om daardeur te kom. Dit het egter makliker gegaan net nadat ek in afhanklikheid gefluister het dat “ek met my mond bely dat Jesus die Here is en met my hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het” (Rom 10:9). Tydens die gesukkel om deur te kom was daar nog ‘n kennisgewing: “Onthou, om Jesus te volg hou geen onmiddelike byvoordele in nie. Die aansluitingspakket het nie ‘n mooi kar, pragtige huis, baie geld, gewaarborgde veiligheid of enige salaris nie. Jou dertiende tjek bestaan uit “die massas wat jou gaan beledig en vervolg en valslik beskuldig van al wat sleg is, ter wille van Hom” (Matt 5:11).


Skielik is die eerste steil opdraande hier voor ons. Ons is nog nie behoorlik uitgerus na die gesukkel deur die smal stegie nie en hier is ‘n verskriklike steil opdraand wat ons moet aandurf. Wag, ek hoor ‘n stem: “Gaan na alle nasies toe en maak die mense My dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19-20). Maar Here, ek kan nie. Ek is nie ‘n predikant of leraar nie. Ek kan nie eers behoorlik praat nie, die mense sal nie na my luister nie. Dan hoor ek weer die stem: “Ek het nog nie klaar gepraat nie. “Onthou, Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt 28:20b). Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).


As die Here volmaakte mense wou gebruik om Sy werk hier op aarde voort te sit, het Hy engele aangestel as sendelinge maar Hy bemagtig gewone mense wat daagliks stry met hul eie probleme en selfsugtige begeertes. Wanneer Jesus se liefde in ons werk verander ons taal van ‘n oog vir ‘n oog na die tweede kilometer. Ons moet net die saad saai van die evangelie. Die ontkieming en groei van die saad is God se afdeling. Hy sal sorg, natgooi en versorg op Sy tyd en Sy manier.


Gebed: Ons Vader, ek is ‘n sondaar! Help my! Ek het werklik niks om in te ruil vir U genade nie. Plaas my naam op U gastelys vir die hemelse fees. Dankie Jesus en Gees dat daar nie wegkomkans is vir my wanneer my naam eers op die gastelys verskyn nie want U haal my uit elke donker hoekie uit. Hier is ek. Soos Jesaja roep ek uit: Stuur my. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page