top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


TWEE PAAIE (3)


Matt 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Ps 37:23 – “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.”


As “nuwe mense” is ons deur die “nou poort” en gereed om die “smal pad” te neem. Al die vuil bagasie van die verlede is agtergelaat, want dit was te veel en te groot om deur die “nou poort” te pas. Met die eerste oogopslag lyk die pad baie smaller as wat ons gedink het. Daar is ‘n paar smal stegies wat ons gaan sukkel om deur te gaan. Daar is ook heelwat bulte wat moeilik is om te klim. Daar is selfs doringbosse wat ons moet deurgaan. So in die verte sien ons ‘n klipperige kloof waar die rotswande feitlik teen mekaar is, ons sal moet sywaarts draai om daar deur te gaan. Nou verstaan ons hoekom so min mense hierdie pad kies! Dit is ‘n eensame en moeisame pad! Sal ons nie maar terugdraai nie? Die breë pad het meer aanvaarbaar gelyk en daar was baie mense wat ons kan “help” as ons sou sukkel.


Sommer vroeg op die weg van die smal pad kry ons die eerste kennisgewingbord – “GEEN KRUIS, GEEN KROON.” Dan in fyndruk onder dit “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg” (Matt 16:24). Sommer net daar sak ons op ons kniëe neer – “Here, moet asseblief nie na my modderspore vol sonde kyk wat agter die nou poort se ingang lê nie. Vergeet van my kronkelpaadjies van sonde wat ek so lief was om te neem. Dankie dat U my sondeklere met U bloed gereinig het.”


So entjie verder kry ons nog ‘n bordjie – “SOLA SCRIPTURA” : “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (Ps 1:1-2). Sjoe, dit lyk interessant. Hierdie “smal pad” het duidelik ‘n paar grense wat moeilik oorgesteek gaan word. Ons kan nie nou omdraai nie. Jesus het duidelik gesê ons kan nie vir God en Mammon dien nie.


Ons is maar ‘n paar meter weg nadat ons deur die ingang van die “nou poort” gekom het, en ons vorder amper nie. Hier is nog ‘n bordjie – “Dit is aan God te danke dat julle met Christus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Kor 1:30). Die pad raak moeisamer. Ons loop nog steeds dag vir dag met die sonde in ons rond. Ja, daar was ‘n paar keer wat die ander wang gedraai is, die ekstra kilometer geloop is, maar ons kon nie elke dag daarmee volhou nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie” (1 Joh 1:8). Dag vir dag klou ons vas aan ons sondige begeertes, en dit is in stryd met wat die Gees wil want hier is nog ‘n bordjie – “Laat julle lewe deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van jul sondige natuur nie” (Gal 5:16). Hier rus ons eers tot môre. Moed hou – ‘n Christen hou koers met die oog op Jesus gerig!


“GEEN KRUIS, GEEN KROON”


Gebed: Dankie Here dat U vir ons die belofte gelaat het dat “As ons ons sondes bely – U getrou en regverdig is. U vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtighede” (1 Joh 1:9). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page