top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


TWEE PAAIE (2)


Matt 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Kol 3:9-10 – “Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.”


Hoekom beskryf Jesus die “poort” as “nou”? Eerstens, die koninkryk wat ons Verlosser kom vestig het is eksklusief! Daarom is daar net één deur wat na die “smal pad” lei: JESUS CHRISTUS. Die leringe van die wêreld wat beweer dat alle geloofspaaie na God toe lei, is ‘n leuen wat satan ontwerp het om mense op die breë pad te hou en wat na die verderf toe lei. Jesus sê self: “As iemand dors het....” (Joh 7:37); “Ek is die lig vir die wêreld....” (Joh 8:12); “Ek is die ingang....” (Joh 10:9); “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê....” (Joh 10:10); “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo sal lewe....” (Joh 11:25); “Ek is die wingerdstok...”(Joh 15:5); “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).


Tweedens is die “poort nou” want daar is baie mense wat die evangelie van Jesus Christus verwerp, daarom sê Jesus “dié wat dit kry, is min.” Sedert Adam en Eva se sondeval is daar miljoene mense wat rondtas in die duisternis van sonde – “Die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie (Spr 4:19); “Die mense het eerder die duisternis as die lig lief want hul dade is sleg” (Joh 3:19); “Ongelowiges onderdruk die waarheid deur hul ongeregtigheid” (Joh 1:18) gevolglik “bly hulle in die duister as gevolg van gebrek aan insig” (Rom 1:21). Die wye poort daarenteen is so wyd dat selfs ‘n blinde daardeur kan stap. Geen probleem of inspanning word ondervind om dáár te kan ingaan nie – “hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hul onkunde volhard” (Ef 4:18).


Derdens is die “poort nou” want niemand kan daar ingaan as die Heilige Gees nie hul harte verander het nie. Soos Jesus se dissipels van ouds wil ons ook vra: “Wie kan dan gered word?” Jesus antwoord ons: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik” (Matt 19:26). Wanneer ‘n mens “opnuut gebore word” is jy Gees gedrewe: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God” (2 Kor 5:17). Daarom begin die ingang na die “nou poort” deur God se soewereine genade, deur ‘n geestelike opwekking uit die “dood” van sonde (Ef 2:1), is ons nuut gemaak deur die Gees (Gal 6:15) want “deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is ons gered!” (Ef 2:5).


Vierdens is die “poort nou” want alleenlik diegene wat opreg in Jesus Christus glo, kan daar ingaan. Die Heilige Gees gebruik die kennis van die Skrif om ons te oortuig van ons oortredinge, dit te bely en om ons vertroue in Christus te stel. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word’ (Rom 10:9). Dit is onmoontlik vir ‘n “nuwe mens” om sy ou lewe van sonde saam met hom deur die “nou poort” te neem.


Gebed: Dankie Heer dat U die Ingang is by die “nou poort.” Ons het almal gesondig en was ver van God af, maar deur U verlossing by Golgota kan ons nou met vrymoedigheid die kruis as kompas, as vertrek- en eindpunt gebruik van dit wat ons glo en bely. Dankie dat U “kompas” ons tot by die regte adres bring, die “nou poort” wat ons na die smal pad lei. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page