top of page

E - Kerk Gedagte vir Vandag


GEBED

Matt 6:9-13 – “So moet julle bid: Ons Vader.....”

“ONS VADER WAT IN DIE HEMEL IS,” dankie dat U nie net daar bo is nie, maar ook hier by ons in al ons nood en seer. Dankie dat U ons soos ‘n vader beskerm en soos ‘n moeder versorg.

“LAAT U NAAM GEHEILIG WORD” deur ons vandag, dat ons so sal optree dat mense U in ons sal herken en ter wille van ons lewe aan u eer sal gee.

“LAAT U KONINKRYK KOM.” Breek die mag van die bose, bevry ons van die mag van die sonde, en van ons eie selfsug, en help ons om so te lewe dat U heerskappy deur meer mense erken en eerbiedig sal word.

“LAAT U WIL GESKIED,” al is dit anders as wat ons dit graag sou wou hê. Here, ons huiwer om dit te sê, maar stel ons asseblief teleur as ons begeertes nie met U wil ooreenkom nie en maak ons dan gewillig om U wil te doen.

“GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD,” want ons is elke dag in alles van U afhanklik. Wanneer ons in nood is, besef ons dit meer as ander kere, maar sonder U kan ons nooit regtig regkom nie. En al sou ons ook genoeg geld in die bank hê, kan dit nog nie ons gesondheid en geluk koop nie.

“EN VERGEEF ONS ONS OORTREDINGS” wat vir ons maar klein lyk, maar in die lig van die prys wat dit U gekos het, is dit verskriklik groot, so groot dat ons maklik dié mense kan vergewe wat teen ons gesondig het.

“EN LAAT ONS NIE IN VERSOEKING KOM NIE” omdat die duiwel vir ons te sterk is en ons nooit sy lis kan weerstaan as U ons nie beskerm nie. Daarom bid ons: Verlos ons van die bose, ook waar hy op fyn vermomde maniere ons wil verlei om “onskuldige sondetjies” te doen, soos om goed te vat (klein of groot) wat nie aan ons behoort nie, en “wit leuentjies” te vertel.

“AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK EN DIE KRAG EN DIE HEERLIKHEID TOT IN EWIGHEID.” U is die Here, U het alles gemaak, daarom het U reg op alles. Laat alles wat asemhaal, U prys. Alle lof moet aan U gebring word. U is groot en getrou. Niks en niemand kan met U vergelyk word nie, wonderlike God, genadige Vader, getroue Vriend.

ADRIO KÖNIG.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page