top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


ARMSORG


Matt 6:2 – “As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.”


Die eerste van drie voorbeelde wat Jesus voorhou om hierdie lewe van geregtigheid te beoefen, is ‘armsorg.’ Die versorging van die armes was ‘n belangrike faset van die Joodse- en vroeë Christelike gemeenskapslewe. Dit was egter afhanklik van individue se vrygewigheid, wat ‘n probleem was. Sommiges het uit eersugtige bymotiewe hulle bydraes met groot vertoon in die openbaar, gegee.


Jesus bring die kontras van omgee vir behoeftiges wat deur skynheiligheid gedoen word, in die reine. Armsorg en hulpverlening is vandag nog steeds ‘n groot behoefte. Ongelukkig het dit in sommige gevalle ontaard in ‘n vertoonspel van “If you’ve got it, flaunt it!” Sommiges wat gee, wil in die kalklig wees – hoor hoe goed hulle is; hoeveel hulle doen vir behoeftiges; hoeveel tyd daar gespandeer word om ander te help; hoeveel ure vir behoeftiges gebid word; hoeveel ure spandeer word op uitreike om na behoeftiges om te sien. Dit gaan oor eersugtige selferkenning en waardering.


Wat is die motief daarvan? Sien dié wat liefdadigheid ontvang, God in die liefdesdaad raak? Word God wat “verborge is,” daardeur beïndruk? Hy ken almal se motiewe. Jesus verklaar nie ons moet nie indrukwekkend wees nie – meeste Christene is indrukwekkende mense. Jesus is ook nie teen publieke regverdigheid nie – getrou aan die wet; sout en lig vir die aarde; - Jesus se belang is egter met watter motief dit gedoen word.


Is dit dan verkeerd om te gee sonder dat iemand daarvan weet? Geensins, die Bybel is vol voorbeelde daarvan: Gelowiges verkoop hul besittings en verdeel dit onder mekaar volgens elkeen se behoefte (Hand 2:45); Numeri 7 lys name van skenkers aan die Tabernakel; 1 Kron 29 beskryf presies hoeveel die leiers van Israel geskenk het om die tempel te bou. Indien hulle egter na status en reputasie gesoek het, was dit verkeerd.


Jesus se motivering is dat dit nie gaan oor wat “die mense” gaan sê nie of om hulle te beïndruk nie, maar oor God. Jesus motiveer ons juis om te gee, om om-te-gee! Wanneer ons gee, moet ons só draai dat die kalklig nie op ons val nie maar dat die lig na God toe draai sodat Hy verheerlik word. Wanneer mens te breed in die lig staan, is daar nie plek vir ander om in die lig te kan inkom nie. “Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matt 5:7).


Gebed: Here, maak ons sensitief vir mense se behoeftes. Maak ons harte soos U liefdevolle hart wanneer ons uitreik na ander en stuur ons in die rigting waar iemand om hulp wag, nie waar ons wil en volgens ons keuses nie. Wanneer ons daar arriveer om te help, maak ons deursigtig dat mense skaars van ons sal weet, maar agter ons, U sal sien. Amen


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page