top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


LIEFDE VIR DIE VYAND


Matt 5:43-48 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ (V 43)

Vergelyk ook Hand 11:2 – “Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: ‘Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.’ ”


Die Joodse rabbi’s se interpretasie van God se wet oor naasteliefde, was korrup en Jesus wil dit weer in die reine bring. Hulle verkeerde opvatting om jou vyand te haat, druis totaal in teen God se opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here” (Lev 19:18).


Wie is ons naaste? Dit is beslis nie ‘n keurlysie van mensename van ons keuse, en die res is vyande, nie. Om dit nog moeiliker te maak, vertel Jesus ter geleentheid die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Luk 10:30-37). Die man wat aangeval is deur rowers was identiteitsloos – dit kon dus enigiemand wees. Die man wat hom help was iemand wat deur die Jode gehaat is en gesien is as die vyand – ‘n Samaritaan. Kontrasterend is dit juis dié vyand wat hom ontferm oor die beseerde. Die Jood se vyand wéét immers wie sý naaste is!


“Moenie tyd mors om te wonder wie jou naaste is en wie jou vyand is nie. Tree op asof jy hulle liefhet dan sal jy ontdek dat jy hulle liefkry” (C.S. Lewis).


Is die meeste van ons se naamlys van vyande nie ook dalk langer as ons “Keurlysie van ons Naastes” nie? Dit is al die mense wat ons bloeddruk laat styg – die regering, verkragters, moordenaars, verkeersmanne, taxibestuurders, mense wat my sleg behandel het, almal wie ek nie kan vát nie! Want......“Ek is nou maar eenmaal so gemaak en so laat staan.”


Daardie gesegde dra nie water nie. God maak nie foute nie. Ons kán nie deel wees van daardie “so-gemaak-en-so-gelaat-staan” mense nie. Ons is na God se beeld gemaak (Gen 1:26) en as dissipels van Christus, kan niemand ons verander nie! Daarom wil Jesus die Joodse rabbi’s en ons, se naamlys van haat, in liefde verander. Ons Koninkrykskinders is anders! Ons is nuutgemaak! In Getsemane en op Golgota het Jesus die angs van die hel verander sodat ons as Sy dissipels in Sy vrede ingesluit kon word! As nuwe mense dink ons nuut oor ander en alles en tree ons in liefde, nuut op! As sagmoediges maak ons vrede want ons is dankbaar dat ons afhanklik kan wees van God en Sy genade!


Gebed: Here, maak ons instrumente van U vrede. Waar daar haat is, laat ons liefde saai. U het vir ons die gebod gegee om mekaar lief te hê sodat almal kan sien dat ons U dissipels is. Maar Here, ons is eerder geneig om twyfel en onmin te saai. Help ons om U voorbeeld te volg. U het om ons ontwil uit liefde uit, U lewe as ‘n offergawe gegee by Golgota. Laat ons mense liefhê ten spyte van hul houding teenoor ons.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page