top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


VERGELDING


Matt 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ......... “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie ...... As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere (V 40).

Vergelyk ook Rom 13:8 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”


Jesus verander Sy tweede illustrasie van ‘n persoonlike aanval, in Sy derde illustrasie na ‘n aanval op ‘n mens se besittings. Die onderklere wat mans gedra het in Jesus se aardse tyd, was van katoen of ‘n linnekleed naaste aan die liggaam. Elke Jood het ‘n paar stelle daarvan besit. Die bokleed was van ‘n duurder materiaal en gewoonlik het die armes net een gehad. Die bokleed was ‘n belangrike kledingstuk en het ook as ‘n kombers teen die koue gedien. Volgens Joodse wet mag niemand ‘n bokleed van iemand anders neem nie (Eks 22:26-27). Selfs wanneer ‘n bokleed verpand was, moes dit die aand terugbesorg word sodat die arme, daaronder kon slaap (Deut 24:10-13).


Jesus het weereens ‘n radikale benadering: As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere (V 40). Hy vra nie dat ons die howe moet gebruik om te bewys ons het ook ‘n reg op ons goedere nie. Hy sê ook nie ons moet ons huis ook gee as die kwaadwillige ons kar wil vat nie. Dit is beter om ‘n minderwaardige kledingstuk weg te gee instede dat die evangelie daaronder ly. Buitendien, mag die kwaadwillige nie die bokleed hou nie.


Het ons Christene dan nie regte nie? Moet ons maar net doodluiters toelaat dat ‘n kwaadwillige ons besittings neem? Met respek, dit is duidelik dat Jesus dalk ons regte anders verstaan. Dan moet ons egter onwillekeurig erken: Is ons besittings nie maar net leengoed nie? Behoort dit nie in elk geval aan God nie? Dalk is dit nodig dat ons met alles wat ons is en met al ’ons’ besittings, ons tot beskikking stel vir God en ons naaste.


Wat Jesus hier beklemtoon, is dat Sy volgelinge nie ‘n dispuut verklaar oor hul wetlike reg nie. ‘n Christen dink nie aan sy regte nie maar sy liefdesplig. Hy dink nie aan sy voordele nie maar sy verantwoordelikhede. Die ‘wet’ van God se koninkryk ís anders, soms veeleisend. “Om Jesus na te volg verg opoffering, dienslewering en volharding. Daar is geen flambojant of glans aan verbonde nie. Dit is egter die ewigheid werd” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Almagtige Vader, maak ons lewe onopgesmuk sodat ons in eenvoud lewe sonder om ‘n ophef daarvan te maak. Fokus ons gedagtes op ander se behoeftes eerder as ons eie. Herinner ons daaraan dat alles buitendien aan U behoort en deur U krag kan ons dit regkry om eerder te gee as om konflik te hanteer, want U Gees is in ons.

Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page